NewsSchools

Morgenzon Landbou Akademie aangewys as landbouskool van die jaar

Morgenzon Landbou Akademie is aangewys as die landbouskool van die jaar tydens ’n glansgeleentheid wat Donderdagaand, 20 September plaasgevind het.

Morgenzon Landbou Akademie is onlangs by die Alfaskou aangewys as die Alfa-landbouskool van die jaar.

Die Alfaskou, wat vanaf 17 tot 20 September op Parys plaasgevind het, was die tweede kompetisie waartydens die Alfa-landbouskool van die jaar aangewys is.

Altesaam 11 landbouskole en skole met landboustudierigtings het deelgeneem.

Alle skole het reeds Maandagoggend by die Dome op Parys aangemeld.

Tydens die voorbereidings vir die skooluitstallings is daar gemeet, gepas en gewerkskaf om seker te maak dat elkeen se skooluitstalling die beste en blywendste indruk op die beoordelaars maak.

Dinsdagoggend is afgeskop met die jeugskoukompetisies in die groot vee- en klein veeklasse.

Morgenzon Landbou Akademie het in die kompetisies wat onderskeidelik uit 20 skoudeelnemers bestaan het, met ’n tweede en vierde plek in elke klas geëindig.

Ander kompetisies waaraan deelgeneem is, was die rasuitstalling waarin Morgenzon Landbou Akademie die Bradfordbeesras en vleismerino-skaapras uitgestal het.

Elke skool moes ook ’n voorlegging van 15 minute aan ’n paneel van beoordelaars voorlê waartydens die leerders die geleentheid gekry het om hul skole en spesifiek die landboustudierigting van die skole, voor te stel.

Die skole het ook punte ingesamel met ’n statiese uitstalling waartydens daar van ’n hoender, ’n konyn of ’n duif gebruik gemaak kon word.

Daar was ’n kennisafdeling waar die Veeplaastydskrif se relevante boerderyberigte vanaf Januarie tot Augustus 2018 as basis gebruik is.

Verdere kompetisies waaraan skole individueel kon deelneem, was onder andere ’n slagosgroep van vier diere.

Morgenzon Landbou Akademie se osse het ’n gemiddelde persentasie van 58,8 persent behaal.

Daar was ’n landwye kuilvoervoerkompetisie waartydens Morgenzon Landbou Akademie in die top 16 uit die 74 deelnemers geëindig het.

Morgenzon Landbou Akademie is aangewys as die skool wat die beste mieliekuilvoer in die land gemaak het.

Aan die einde van die week is al die punte van die onderskeie kompetisies bymekaar getel om die landbouskool van die jaar te bepaal.

Morgenzon Landbou Akademie is aangewys as die landbouskool van die jaar tydens ’n glansgeleentheid wat Donderdagaand, 20 September plaasgevind het.

Morgenzon Landbou Akademie het die hoof, elke landbou-onderwyser en die ouers wat betrokke was om dit een van die spoggerigste geleenthede te maak, bedank.

Die akademie het ook Veeplaas vir die inisiatief om by die landboujeug betrokke te raak, bedank.

“Dankie vir die platvorm wat julle vir ons by Alfaskou gee om landbou-onderwys uit te stal en tot verdere hoogtes te neem. Dit is instansies soos u wat ’n geweldige bydrae lewer tot die uitbouing en vooruitgang van landbou in Suid-Afrika.”

Related Articles

Back to top button