Back2Back motorfiets-groep en die Final Chapter motorfietsryers beplan ’n kerspartytjie vir Ermelo se kinderhuise

Hulle het besluit om ’n skoenboks-projek aan te pak om so geskenke vir die kinders in te samel, wat tydens die Kerspartytjie uitgedeel gaan word.

Die Back2Back motorfiets-groep in Ermelo, in samewerking met die Final Chapter motorfietsryers, beplan om Kersfees vir die kinderhuise in Ermelo ’n dag te maak om te onthou.

Die groep het onlangs na ’n besoek aan ‘n kinderhuis, besluit om ’n Kerspartytjie vir die kinders te reël.

“My hart was so seer om te besef dat Kerstyd vinnig naderstap en te weet dat daar soveel kinders in Ermelo is vir wie dit net nog ’n gewone dag gaan wees.” het me. Jessica Abbott gesê.

“Ons wil die kinders weer laat uitsien na Kersfees, hulle spesiaal laat voel en wys dat daar wel mense is wat vir hulle omgee.”

Hulle het besluit om ’n skoenboksprojek aan te pak om so geskenke vir die kinders in te samel, wat tydens die Kerspartytjie uitgedeel gaan word.

Daar is volgens me. Abbott tans 30 kinders in die drie kinderhuise op Ermelo, waarvoor hulle elkeen ’n skoenboks benodig.

Die kinders is tussen die ouderdom van twee en 17.

Die skoenbokse word volgens die ouderdomme en geslag van die kinders opgemaak met iets wat hulle kan liefhê, higiëniese benodigdhede, klerestuk, ’n speelding en ook skoolbenodigdhede vir die komende jaar.

Die partytjie sal Saterdag, 15 Desember plaasvind en me. Abbott nooi almal in die gemeenskap om betrokke te raak by die projek.

Almal is ook welkom om by die groep tydens die Kerspartytjie aan te sluit en die dag saam met die kinders te geniet.

Volgens haar is hulle nog besig om die perseel vir die dag te bevestig.

Sy het vertel dat hulle beplan om ook ’n springkasteel en gesigverf te reël vir die Kerstyd.

“Indien ons meer skoenbokse ingesamel kry, wil ons ook uitgaan na die kinders wat op straat is en die bokse vir hulle uitdeel, om ook hulle Kerstyd spesiaal te maak.”

Die groep beplan ook om dit ’n jaarlikse instelling te maak om te verseker dat die kinders uitsien na Kerstyd.

Enige iemand wat by die projek wil betrokke raak of idees het vir die Kerspartytjie, kan me. Abbott kontak by 063 644 9268.

Exit mobile version