Melissa Bates aangewys as beste onderwyser in Sjina

Me. Bates is aangewys as die beste onderwyser in Sjina.

Me. Melissa Bates, dogter van mnr. Louis en me. Harriet Bates, van Breyten en oud-Liggie het bykans die onmoontlike reggekry in Sjina.

Me. Bates is tans ’n onderwyseres in Sjina en hou in die stad Hangzhou op die Pingping-kampus skool.

Sy is vroeër vanjaar deur haar hoof genader om aan ’n plaaslike kompetisie vir onderwysers deel te neem, waartydens hulle onderwyser se lesaanbiedings en -voorbereidings assesseer en evalueer.

Wat die kompetisie moeilik maak, is dat die leerders se ouers saam met die hoof en ander onderwysers die assessering doen.

Me. Bates is aangewys as die wenner van die kompetisie en het onder andere ’n tent, ’n slaapsak en ander kamptoerusting gewen.

Sy het besluit om uit te vind of sy op die groot muur in Sjina kon gaan kamp en het toestemming vir dié avontuur gekry en het so haar prys gebruik.

Die hoof het haar ’n maand later genader om saam met vier van haar kollegas vir die landwye kompetisie vir onderwysers in te skryf.

Dié kompetisie het in Beijing plaasgevind. Me. Bates hou van uitdagings en het dadelik ingestem. Bykans 1 200 onderwysers van regoor Sjina is genomineer om in Beijing deel te neem.

Die groep onderwysers het op 10 September in Beijing geland en al die 1 200 onderwysers is in verskillende hotelle gehuisves en is Dinsdag vir die kompetisie voorberei.

Elke onderwyser het op 12 September ’n les aangebied voor sowat ’n duisend mense.

Me. Bates is onder die eerste 100 onderwysers aangewys. Sy het tydens die volgende ronde onder die top 35 onderwysers geëindig.

“Dit was meer as waarvoor ek ooit kon droom om onder die top 35 onderwysers te eindig,” het me. Bates gesê.

Sy en 34 ander onderwysers het aan die laaste ronde deelgeneem.

Me. Bates het deurgegaan na die laaste vyf onderwysers en is op 12 September aangewys as die wenner van die kompetisie.

“Ek was baie opgewonde en het dit glad nie verwag nie. Enige kompetisie maak jou sterker vir die lewe en die toekoms. Dit is ’n ondervinding op sigself wat geen geld in die wêreld kan koop nie, veral nie waar dit selfvertroue aangaan nie,” het me. Bates gesê.

Met dié prestasie is me. Bates aangewys as die beste onderwyser in Sjina.

Sy het bykans 15 maande gelede in Sjina begin skool gee om ondervinding in die buiteland op te doen.

Sy het navorsing gedoen oor Denemarke en Swede, maar het gevoel dat Sjina se onderwysstelsel meer waarde sal toevoeg tot haar eie loopbaan in die onderwys.

Volgens haar pa, hoof van Laerskool Breyten, is daar niks fout met ons land se onderwysstelsel nie, maar die sillabus word nie oral toegepas nie.

“Ons is baie trots op haar en opgewonde vir haar, want sy verdien dit. Dit is goeie ondervinding en ons gun haar dit,” het mnr. Bates gesê.

Me. Bates het al haar lesaanbiedings tydens die kompetisie op Suid-Afrikaanse voorbereidingsmetodes aangebied.

Sy keer Sondag, 16 Desember terug na Suid-Afrika en hoop om ’n onderwyspos in die omgewing te bekom.

Sy was voor haar vertrek na Sjina aan Hoërskool Oosterlig verbonde waar sy vir drie jaar die beste uitslae in haar vak vir matrieks gehad het.

Exit mobile version