Local newsNews

Geen planne in sig om toegang tot die Petdam op Ermelo te beheer nie

Die borde wat duidelik gesê het dat geen alkoholgebruik toegelaat word by die dam nie, is ook nie meer te siene nie.

Die toestand van die Petdam op Ermelo is sommige dae van só ’n aard dat die dam bykans soos ’n groen rugbyveld lyk.

Die Hoëvelder het die dam besoek na baie klagtes en het gesien hoe die groen mat van alge deur die wind oor die dam gewaai word.

Die Petdam op Ermelo lyk op sommige dae soos ‘n groen veld soos die alge die water oorneem.

Die oppervlak van die dam is die heeltyd met rommel bestrooi wat deur inwoners in die dam gegooi word of deur die wind in die dam gewaai word.

Die laag alge wat op die oppervlak vorm, kan later ’n invloed hê op die suurstof wat deur die water opgeneem word, wat die natuurlewe in die dam beïnvloed.

Die projek om die Petdam te omhein is op 26 April 2016 aan ’n kontrakteur oorhandig. Inwoners wonder steeds wat van dié planne geword het om toegang tot die dam te beheer.

Gebreekte glasbottels lê orals by die Petdam op Ermelo. Dié gevaar lê versteek tussen die lang gras langs die dam.

Soos in die storie wat op 18 April 2017 in die Hoëvelder gepubliseer is onder die opskrif “Work on fence stalled”, word daar steeds geen hekke by die dam gesluit of toegang tot die dam beheer nie.

“Die dam was in die verlede een van die lekkerste plekke waar jy saam met jou gesin kon gaan piekniek hou het, maar dit is besig om ’n seer oog vir die gemeenskap te word.”

Die geroeste heining rondom die Petdam is geknip en op ’n ander plek het ’n motor die pale en ’n stuk van die heining platgery, wat steeds nie herstel is nie.

Inwoners is van mening dat die munisipaliteit die geld wat gebruik is om die heining om die dam op te rig, vir ander doeleindes kan gebruik omdat daar niks van die planne gekom het om toegang tot die dam te beheer nie.

Rommel en alge neem die Petdam oor.

Diegene wat naby die dam woon, kla gereeld oor die harde musiek wat soms tot vroeg in die oggendure gespeel word terwyl daar by die dam gekuier word.

“Wat het geword van die wette teen alkoholgebruik in die openbaar, om nie eers van urineer in die openbaar te praat nie? Die dam is in ’n haglike toestand na ’n naweek se gekuiery by die dam,” het een gesê.

Die inwoner het ook genoem dat dit nie net die munisipaliteit se verantwoordelikheid is om die dam instand te hou nie, maar dat elke inwoner van Ermelo die verantwoordelikheid het om agter hulself skoon te maak en op te ruim.

Die borde wat duidelik gesê het dat geen alkoholgebruik by die dam toegelaat word nie, is ook nie meer te siene nie.

Volgens ’n inwoner wat gereeld by die dam hengel, het hy al gesien hoe rioolwater in die dam inloop, maar dit kon nog nie bevestig word nie.

Die Hoëvelder het navraag by Msukaligwa Munisipaliteit gedoen oor wat van die planne geword het om die dam se toegang te beheer, asook oor die wette en regulasies oor alkoholgebruik in die openbaar, maar geen antwoorde is teen spertyd ontvang nie.

Na ’n naweek lyk die omgewing langs die Petdam soos ’n vullisterrein soos die leë bottels en vuilgoed orals lê.

Related Articles

Back to top button