Ermelo SAVF beoog om tehuis meer huislik te maak vir inwoners

Hulle daag die gemeenskap uit om ’n kamer vir die inwoners oor te doen en hulle afdruk daar te los.

Ermelo SAVF-tehuis het in 1958 hul deure oopgemaak, hoewel daar reeds ’n tak bestaan het wat geld vir behoeftige mense ingesamel het.

Oor die jare het die toestand van die tehuis agteruitgegaan omdat geld vir herstelwerk nie beskikbaar was nie.

Volgens die tehuis se bestuur het mnr. Matie Jacobs na ’n besoek aan die tehuis ’n projek begin om die dakke en plafonne van die gebou te herstel. Mnr. Jacobs het die eerste R5 000 geskenk en ander ondernemings ook uitgedaag om die projek te ondersteun.

“Daar is reeds soveel herstelwerk gedoen aan die tehuis, waarvoor ons baie dankbaar is, maar ons vra steeds die hulp van die gemeenskap om te help,” het me. Annelize Maré, bestuurder van Ermelo SAVF-tehuis, gesê.

Die bestuur het mnr. Jacobs vir sy inisiatief om die herstelprojek te begin, bedank.

“Daar is nie woorde wat ons dankbaarheid hieroor kan uitspreek nie.”

Me. Maré en haar diensbestuurspan is tans besig met hul volgende projek waartydens hulle die tehuis se gange wil oorverf om meer kleur in die gebou te bring en die inwoners se kamers oor te doen.

“Ons doel is om die tehuis meer huislik te maak en karakter te gee.”

Die tehuis het tans 78 kamers wat hulle wil oordoen.

Stukkende deurslotte moet onder andere reggemaak word en die kamers moet oorgeverf word. Hulle daag die gemeenskap uit om ’n kamer vir die inwoners oor te doen.

“Indien die persoon of onderneming wat die kamer geborg het wil, kan hulle ook ’n plaatjie in die kamer opsit wat hulle identifiseer,” het me. Judy Gray gesê.

Pas Prokureurs het onlangs een van die tehuis se kamers wat as noodkamer gebruik word, oorgedoen en alle herstelwerk aan die kamer gedoen en die toerusting aangevul.

Daar is nog ’n noodkamer in die tehuis wat opknappingswerk benodig en die bestuur vra ondernemings wat belangstel om die kamer oor te doen om hulle te kom sien.

’n Ander behoefte by die tehuis is aktiewe vrywilligers wat bereid is om uit te help en tyd saam met die bejaarde mense te bestee.

Daar is aan die Hoëvelder vertel dat van die inwoners geen familie het wat naby bly om by hulle te kom kuier nie.

Al wat nodig is om as ’n vrywilliger in te spring, is bereidwilligheid om betrokke te raak.

Die bestuur en werkers van die tehuis is tans hard aan die werk om voorbereiding te doen vir hulle “warrior race” wat Saterdag, 3 November plaasvind.

Mense word genooi om die dag saam met hulle te kom geniet en mense wat ’n stalletjie vir die dag wil oprig, kan me. Maré skakel by 017 819 3614/7.

Hulle nooi die gemeenskap om die SAVF Huis Ermelo se algemene jaarvergadering by te woon wat Maandag, 10 September om 6nm by die tehuis sal plaasvind.

Tydens die vergadering vind die verkiesing van die diensbestuur plaas en alle vrae oor die tehuis word dan beantwoord.

Daar word tydens die vergadering ook meer vertel wat van vrywilligers verwag word en hoe mense betrokke kan raak.

Exit mobile version