GeneralNews

Hannie Smith is al 21-jaar betrokke by die Vroue Landbou-Unie

“Ons benodig jonger lede om deel te raak van die VLU. Daar is so baie wat die vrou kan leer by die VLU.”

Me. Hannie Smith, voorsitter van die Vroue Landbou-unie Millennium-tak se VLU-lidmaatskap loop soos bloed in haar are.

Met die koerant se aankoms by haar woning hang die reuk van vars beskuit in die lug en sy het gesê dat sy lief is vir bak en dat sy reeds ’n baksel in die oond het.

Sy het in 1997 by die Swartgoud-tak in die Kosmos-streek aangesluit waar sy op die raad gedien het, eers as sekretaris en later as voorsitter.

Nadat sy en haar man, mnr. Tokkie Smith, in 2003 na Ermelo verhuis het, het sy steeds vir ’n jaar elke maand vir die Swartgoud-tak se vergaderings deurgery.

“Op daardie stadium was ek nuut op die dorp en het nie geweet van enige VLU-takke op Ermelo nie,” het me. Smith gesê.

Sy het in 2005 van ’n oggendtak op Ermelo te hore gekom en dadelik gebel en by die VLU Millennium-tak aangesluit.

Dié is vanjaar 18 jaar oud en het hul verjaarsdag in Julie saam met inwoners van die SAVF-tehuis bestee.

“Die tak is in 2000 gestig en daarom word dit Millennium genoem.”

Me. Smith is later as sekretaris van die tak verkies, waarna sy ook as voorsitter vir ses jaar gedien het. Sy is weer in 2016 tot voorsitter verkies.

Volgens me. Smith geniet sy elke maand se vergadering en die kans om saam met haar lede te kuier. As voorsitter is sy verantwoordelik vir die opstel van die program vir elke vergadering.

“Ek probeer elke maand om iets opwindends te reël wat ons tydens die vergadering gaan doen en bespreek.”

Tydens hul laaste vergadering het die groep vroue Vrouedag gevier deur elkeen ’n selfgemaakte handruiker na die vergadering te neem wat na die tyd uitgedeel is.

Sy het ook gereël dat me. Hettie Grey die groep wys hoe om versiersuikerblomme te maak.

Me. Smith is ook in beheer van die geldinsamelings.

“Ons bak gereeld jaffels om geld vir die tak in te samel. Dit is groot werk, maar almal, selfs die mans, spring in en help met bak en skoonmaak na die tyd.”

Sy het verder vertel dat sy nie iemand is wat baie lief is vir brei en hekelwerk nie. Haar groot liefde is bak en inlê.

Baie van haar items wat sy inskryf, behaal persentasies bo 75 persent wat dan na die streekskonferensie vir verdere beoordeling gaan.

Sy neem gereeld deel aan die bak- en bottel- afdelings. Haar koffiekoekies en koffielikeur wat sy gemaak het, is reeds deur na volgende jaar se streekskonferensie se beoordeling.

Haar man het laggend vertel dat hy sal seker maak dat die likeur niks oorkom nie, maar het ook bygevoeg dat dit vreeslik lekker is.

Me. Smith het vertel dat sy haar liefde vir bak en bottel van haar ma gekry het. Sy onthou hoe haar ma altyd koeke gebak en pragtig versier het.

“Ek het só baie by my ma geleer en van haar resepte gekry wat ek nou nog gebruik, soos haar fudgeresep wat ek nou vir my kleinkind moet maak vir sy entrepreneursdag wat voorlê.”

Me. Smith het in 2017 haar 20-jaar knopie ontvang vir deelname aan die VLU. Die grootste uitdaging van die VLU-takke is dat daar ’n tekort is aan lede.

“Ons benodig jonger lede om deel te raak van die VLU. Daar is so baie wat ’n vrou by die VLU kan leer. Indien jy nie weet hoe om iets te doen nie, is daar altyd ander vroue wat jou kan bystaan en wys hoe om dit te doen.”

Me. Smith geniet dit om naweke te rus en een boek na die ander te lees. Met die somer wat naderkom, sien sy weer uit na die aerobiese swemklasse wat sy soggens om 6vm bywoon.

Sy nooi vroue wat deel van die VLU-familie wil word, om haar te skakel by 082 345 8180.

Me. Hannie Smith is die voorsitter van die Vrou Landbou-Unie se Millennium-tak op Ermelo. Sy geniet elke oomblik van VLU en die vriendinne wat sy al gemaak het.

Related Articles

Back to top button