GeneralNews

Kleuterskool en nasorgsentrum op Hendrina benodig hulp om na kinders om te sien

Die huishoudelike omstandighede van die kinders bring ’n groot gebrek aan stimulasie, gebalanseerde etes en soms ook klere mee.

Me. Nicyla Lewarne is in April 2016 deur ’n padwerker genader om haar laerskoolkind na skool te versorg omdat sy dit self nie kon doen nie en nie die geld vir ’n naskoolsentrum gehad het nie.

Sy het ingestem en het slegs twee weke later bykans 20 kinders, wat kleuters en laerskoolkinders ingesluit het, opgepas.

Dit het nie lank geneem voordat sy na 18 kleuters en 30 laerskoolkinders omgesien het nie.

Me. Lewarne is deur die huiseienaar wie sy huis sy gehuur het aan die begin van 2017 in kennis gestel dat sy ’n ander perseel moes kry, waarna hulle van ’n klaskamer by Gekombineerde Skool Hendrina gebruik gemaak het.

Me. Lewarne het ook vasgestel dat ’n kleuterskool geregistreer moet word, maar nie ’n naskoolsentrum nie. Sedert 2018 word daar op vroeë kinderontwikkel gefokus by die kleuterskool wat ondersteun word deur die Ukuba-program van die CMR. Die woord Ukuba beteken om te word.

Die Latchkey Kids-nasorgsentrum en die Ukuba-kleuterskool word albei deesdae vanaf die N.G. Kerk Hendrina se basaarsaal bedryf, hoewel die twee onafhanklik van mekaar funksioneer.

Die kinders wat by die betrokke skole is, kom van ouerhuise waar armoede heers. Baie van die ouers woon op die dorp in klein huisies tussen winkels en geboue.

Omdat van die ouers nie geld het om hul kinders na ’n kleuterskool te stuur nie, het dit die ouers gedwing om die kinders soggens vroeg in hul huise toe te sluit sonder krag of enige stimulasie. Dit was die enigste oplossing vir die ouers om te verseker dat hul kinders veilig is, terwyl hulle uitgaan om te gaan werk.

Die kinders is meeste van die dae met die minimum kos gelaat omdat kos skaars in dié huise is.

“Die kinders is deur middel van die sentrum uit eensaamheid en eentonigheid verwyder en word by die skool toegerus met kennis en vaardighede,” het een van die betrokke vroue gesê.

Die doel by die Ukuba-kleuterskool is om die kleuters te stimuleer en te help met vroeë kinderontwikkeling en by die Latchkey-naskoolsentrum kry die kinders die nodige ondersteuning met huiswerk en skooltake.

Daar word daagliks aan die kinders twee gebalanseerde etes verskaf.

Daar is 25 kinders in die Ukuba-kleuterskool en 50 laerskoolkinders in die Latchkey-naskoolsentrum.

Die huishoudelike omstandighede van die kinders het ’n groot gebrek aan stimulasie, gebalanseerde etes en soms ook kleregebrek.

“Dié omstandighede ken geen taal, ras of godsdiens nie.”

Die skool is soggens vanaf 9vm tot 5nm oop, maar omdat so baie ouers vroeg begin werk, is daar kinders wat reeds voor sewe by die skool is en van die laastes gaan eers om 5.30nm huis toe.

Die kinders leer deur middel van skenkings hoe om te tel, te skryf, in te kleur en selfs om tuin te maak. Dit word alles moontlik gemaak deur skenkings.

Die skool kry tans geen hulp van die regering nie en die groep vroue wat die kinders versorg, kry geen vergoeding nie en betaal soms van die kos en ander benodigdhede uit hul eie sakke.

Dit is vir elke vrou wat by die skool betrokke is belangrik om die kinders wie se ouers dit nie kan bekostig nie, steeds ’n kans op ’n blink toekoms te kan gee. Kinders wat nie van kleutertyd af gestimuleer en ontwikkel word nie, begin hul skoolloopbaan met ’n groot agterstand.

Daar is ’n groot behoefte by die skool vir kos met bykans 60 monde wat daagliks gevoed moet word, asook klere, want daar is kinders wat slegs twee stelle klere het, een wat hy kan aantrek en een wat gewas word.

Ander behoeftes by die skool is opvoedkundige speelgoed, skryfbehoeftes, eetgerei en matrasse en komberse wat die kinders kan gebruik tydens hul middag-slaaptyd.

As jy ’n skenking wil maak, skakel Alta Roux by 082 844 5195.

Related Articles

Back to top button