Local newsNews

Louis Bates is ’n hoof met ’n hart om verskil te maak in sy leerders se lewens

“ ‘n Onderwyser wat opreg is en net die beste vir jou student wil hê. Jou kinders in die klas volg jou voorbeeld en sal goed doen op skool as jy opreg is met hulle.”

Mnr. Louis Bates, hoof van Laerskool Breyten, is sedert 1986 by dié skool betrokke.

Hy was vanaf 2008 die adjunkhoof van die skool en is sedert 2013 die hoof.

Mnr. Bates het sy pa op die ouderdom van vyf jaar in ’n motorongeluk verloor, en het sedertdien alles wat hy in die lewe aanpak, ter ere van sy pa gedoen.

“My pa het altyd probeer om alles wat hy gedoen het, die beste te doen wat hy kon,” het mnr. Bates gesê.

Dit is ook die wyse waarop mnr. Bates sy skool, personeel en leerders lei.

Hy het vertel dat al was hy baie jonk toe sy pa dood is, hy sy pa baie goed kan onthou.

Mnr. Bates is op vyf jaar skool toe en het matriek voltooi toe hy 16 jaar oud was.

“Ek kan nou uit ondervinding ouers waarsku om nie hul kinders op ’n vroeë ouderdom in die skool te sit nie.”

Hy het verduidelik dat kinders wat vroeg skool toe gaan, altyd ’n agterstand sal hê omdat hulle nie gereed vir skool is nie en nooit saam met hul vriende in dieselfde sportspanne kan speel nie.

“Op hoërskool raak die kinders agter met akademie omdat ’n 16-jarige kind nie kan dink soos ’n 18-jarige kind nie.”

Mnr. Bates glo steeds dat jou kinderjare of omstandighede nie jou toekoms bepaal nie.

“As jy besluit dat jy die beste wil wees in dit wat jy aanpak, moet jy dag en nag daaraan werk. Jy moet dit elke dag nastreef.”

Sy ma wou hom na die weermag na die Normaal Onderwyskollege in Pretoria inskryf, maar hy was te laat en daar was nie meer plek nie.

Hy het daarna sy studies op Potchefstoom begin omdat hulle ’n kansellasie gehad het.

’n Onvoorbereide toespraak in een van sy klasse het sy hart oopgemaak vir die passie waarmee hy vandag sy skool bestuur en waarmee hy skoolhou as onderwyser.

“Ek het geglo dat die Here my na die onderwyskollege gelei het en my loopbaan in onderwys vir my oopgemaak het.”

Mnr. Bates het gesê die lekkerste gevoel is as oudleerders van die skool terugkom en hom vertel dat hy hul lewens en die manier waarop hulle die lewe sien, verander het.

“Om met kinders te werk en ’n verskil in hul lewens te maak, het my lewe verryk.”

Mnr. Bates het deur die jare al 18 onderwystoekennings ontvang, waaronder as wiskunde en wetenskaponderwyser van die jaar in Mpumalanga, die Gert Sibande “Excellence in Primary School Leadership”-toekenning en hy was die nasionale wenner vir uitnemendheid in onderwysleierskappe.

Hy is ook deur ’n nasionale koerant in 2013 as staatmaker van die jaar aangewys.

Mnr. Bates is sedert 2011 die voorsitter van Mpumalanga Atletiek en Landloop.

Volgens hom moet elke onderwyser opreg wees en altyd voorbereid wees in die lesse. Hy het gesê dat onderwysers die beste vir elke kind moet gee omdat hulle dit verdien.

“Die leerders in die klas volg jou voorbeeld en sal goed doen op skool as jy opreg is met hulle.”

Mnr. Bates streef daarna om elke kind tuis te laat voel en te voel dat hulle nie beter of slegter is as die leerder langs hulle nie.

Hy het gesê om dit reg te kry om almal in die skool dieselfde te laat voel, moet jy as onderwyser die leerders ken en weet wat hul sterkpunte en swakpunte is.

’n Onderwerp wat baie na en swaar op mnr. Bates se hart lê, is dat groepwerk en take in vandag se tyd tuis gedoen word.

“Meeste van die kinders se ouers doen die take vir die kinders en hulle leer dan niks uit die taak nie.”

Hy glo dat die skool alles wat nodig is vir die groepwerk moet verskaf omdat elke kind in die groep se ouers nie noodwendig kan bekostig wat benodig word nie.

Een van die skool se oudleerders het gesê dat mnr. Bates haar lewe verander het en haar gevorm het tot die mens wat sy vandag is.

Related Articles

Back to top button