GeneralNews

Rugby loop sterk in Pierre van Rooyen se are

“Ermelo is ’n fantastiese klub, die kommunikasie tussen almal is daar en dis ’n ware broederskap”

Mnr. Pierre van Rooyen is ’n bekende gesig in die rugbykringe op Ermelo.

Hy het in Pietermaritzburg grootgeword waar hy ook vir Pietermaritzburg Hoërskool begin rugby speel het.

Hy het reeds in standard nege klubrugby begin speel en beskryf rugby as sy passie sedert hy kan onthou.

Mnr. Van Rooyen het in 1973 vir Natal se 0/20-rugbyspan uitgedraf, waarna hy vir talle ander spanne ook gespeel het.

Hy het in 1982 vir Ermelo Rugbyklub begin speel. Toe hy na Piet Retief verhuis het, het hy daar die tweede rugbyspan afgerig.

Dit was ook die jaar wat hul eerstespan die Presidentbeker gewen het.

Hy het daarna ook Sasolburg se tweede rugbyspan afgerig, waarna hy die Hurricanes in Witbank afgerig het.

“Ek was lank by dié klub betrokke. Ons tweedespan het drie jaar na mekaar die liga gewen en die eerstespan twee jaar na mekaar.”

Mnr. en me. Van Rooyen en hul dogter het later ’n rugbyklub op Kinross begin.

Dié span het met die afrigting van mnr. Van Rooyen in hul eerste jaar reeds in die halfeindstryd deelgeneem en die jaar daarna het hulle teen sy ou span, die Hurricanes van Witbank, in die eindstryd vasgeval.

Hy het ook op Pullenhope saam met sy vrou ’n rugbyklub op die been gebring vir twee jaar wat ongelukkig na sy vertrek gevou het.

Volgens mnr. Van Rooyen het sy vrou hom nog altyd baie ondersteun in rugby en hul dogter, Wanita, was al sedert sy vyf jaar oud was, saam met hom langs die rugbyveld.

Hy is die afgelope vier jaar terug op Ermelo waar hy by Ermelo Rugbyklub betrokke geraak het.

In dié tyd het hulle die liga gewen en het ook verlede jaar die Mpumalanga Uniewedstryd in Mbombela gewen.

Hulle beoog om vanjaar weer die liga te wen, met die tweedespan wat tans in die tweede plek en die eerste span in die derde plek lê.

Volgens mnr. Van Rooyen is daar baie min punteverskil wat hulle beoog om op te maak in die laaste sewe wedstryde wat nog voorlê.

“Ek het al baie goeie rugbyklubs afgerig en Ermelo is ’n fantastiese klub. Die kommunikasie tussen almal is goed en dis ’n ware broederskap,” het mnr. Van Rooyen gesê. Hy het verder vertel dat dissipline en gees onder die spelers ’n groot rol speel in die sukses van ’n span.

Die span het ook verlede jaar die geleentheid gehad om Superrugby te gaan speel, maar mnr. Van Rooyen het gesê dat die span nie genoeg ondervinding teen daardie tyd gehad het nie.

Ermelo Rugbyklub is vol onthou-oomblikke, soos die Mpumalanga-beker wat hulle verlede jaar in Mbombela gewen het.

Wat vir mnr. Van Rooyen egter uitstaan, is die jaar toe die eerste- en tweedespanne die ligas op Groblersdal gewen het.

Hulle het twee weke voor die eindstryd ’n pakslae van dié span gekry toe hulle 48-12 verloor het. Tydens die eindstryd het die eerstespan teen rustyd met 3-21 agtergeloop, maar het aan die einde van die wedstryd as ligawenners van die veld afgestap met ’n wentelling van 24-21.

“Die spanne het reeds hul oorwinning gevier, maar Ermelo het skitterend gespeel.

“Niemand sal ooit weet wat rustyd in die kring tussen die manne gesê is nie.”

Jacques Strydom was toe die afrigter van die eerstespan.

Volgens hom het ’n hele paar manne tydens dié oorwinning gehuil.

“Dis vir ons altyd lekker om die gemeenskap by ons tuiswedstryde te sien.”

Die klub se volgende tuiswedstryde is op 30 Junie teen Highveld, op 7 Julie teen Sasol 3 en op 21 Julie teen Matla.

Mnr. Van Rooyen het ’n beroep op Ermelo-inwoners gedoen om die spanne te kom ondersteun. As jy by die klub wil aansluit, skakel hom by 076 310 2305 of mnr. Jacques Strydom by 082 328 3410.

Rugby-oefening vind elke Dinsdag en Donderdag vanaf 5.30nm by die AJ Swanepoel Stadion plaas.

Related Articles

Back to top button