Ontmoet VLU Talento Mulher se voorsitter Me. Ans Barnard

Die tak is vanjaar hard aan die werk vir die voorbereiding van hulle jaarlikse konferensie wat vroeg in volgende jaar deur Talento Mulher op Ermelo aangebied word

’n Vrou van vele talente en ’n hart van goud.

Me. Ans Barnard is vanjaar weer as voorsitter van die Vroue Landbou-Unie (VLU) Talento Mulher-tak aangewys.

Sy was twee jaar gelede voor die dood van haar man, toe reeds vir vier jaar voorsitter van die tak.

Sy het na sy dood afgeskakel om haarself weer te vind en op te bou.

Die tak is vanjaar hard aan die werk vir die voorbereiding van hul jaarlikse konferensie wat vroeg volgende jaar deur Talento Mulher op Ermelo aangebied word waar bykans 120 lede verwag word.

“Ek het die jaar vir my lede gesê dat daar nie tyd is om te speel nie, ons moet hard werk om die konferensie ’n sukses te maak,” het sy vertel.

Tydens die konferensie kom al die takke van die Tambuki-streek bymekaar.

Me. Barnard is nie net die skakelbeampte vir haar tak nie, maar ook die streekskakelbeampte.

“Sy is goeie leermeester en het die geduld om ander te leer,” het een van haar VLU-vriendinne vertel.

’n Skakelbeampte beheer die nuus van al die takke, hoewel elke tak sy eie berigte deurstuur, moedig sy hulle aan en staan hulle by met die instuur van berigte.

Sy is 15 jaar gelede deur een van haar vriendinne genooi om by die VLU aan te sluit en dadelik het dit haar aandag getrek.

Volgens haar het die VLU haar geduld geleer en om altyd die mooi in ’n ander vrou te sien.

“Ek probeer altyd sien wat het die Here so lief in die vrou.”

Sy het ’n passie vir hekel, brei en borduur en het ses jaar gelede begin om skilderklasse by me. Anita Grobler by te woon waar haar liefde vir teken en skilder begin het.

Sy het haar self geleer om te brei en dikwels vir haar man en selfs haar kinders truie gebrei.

Met die koms van haar kinders, het haar skoonma haar touwys gemaak om babatruitjies te hekel.

Sy het onlangs ’n potloodskets van Nelson Mandela gedoen waarop sy baie trots is. In die konsep het sy die skets in drie verdeel en mnr. Mandela in drie verskillende ouderdomme geteken.

Sy vertel dat hoewel haar skets nie ’n plek behaal het nie, sy steeds voel dat dit ’n besondere skets is. Die kompetisie is aangebied deur die toeristeraad.

’n Borduurstuk wat vir haar baie spesiaal is, is een van ’n Suid-Afrikaanse voël wat haar suster graag in haar huis wou ophang.

Haar suster is aan kanker oorlede voordat sy dit vir haar kon gee. Sy het die stuk vanjaar geraam en vir haar suster se dogter as trougeskenk gegee.

Artikels van haar en ’n ander lid van haar tak, het in 2012 deurgedring na die Suid-Afrikaanse byeenkoms. Die SA’s word elke drie jaar aangebied.

Dit is vir haar groot verrassing as haar artikels deurdring na die SA’s en ook vir ander kompetisies.

Sy vertel dat by die VLU het sy soveel goeie vriendinne gemaak wat mekaar altyd help in tye van nood.

Volgens me. Barnard word ’n vrou deur die VLU opgehef en in staat gestel om alles te doen wat sy graag wil.

“Jy leer soveel by die VLU dat jy jouself wil uitdaag om ’n ander projek aan te pak?”

Saam met Talento Mulher was sy ook deel van Annebel-projek en die Tassie-projek.

Vir haar volgende projek wil sy graag iets doen vir kanker, wat baie na aan haar hart lê.

Sy is ook ’n beoordelaar en het in 2012 haar prakties en teorie voltooi. Haar doel is om vir die lede meer inligting te kan deurgee oor wat van elke artikel verwag word.

Sy is in Brakpan gebore en haar skoolloopbaan in Laerskool Cullinun afgeskop waarna sy haar hoërskoolloopbaan by Hoërskool Bronkhorstspruit voltooi het.

Sy is in 1975 getroud, waarna haar man na Ermelo verplaas is. Haar geheim vir ’n suksesvolle huwelik is om altyd jou man te respekteer en lief te hê.

“Die Here verwag van jou as vrou om jou man lief te hê en hom ten alle tye te respekteer.”

Exit mobile version