Local newsNews

Joey de Beer, die blomme-vrou van Ermelo, in Pretoria oorlede

Me. De Beer se blommerangskikkings, skeppings en kunswerke het groot luister verleen en smaak gegee aan baie geleenthede en funksies veral by skole, ondernemings, kerke, troues en begrafnisse.

Me. Joey de Beer, bekende blommevrou van Ermelo, is op 17 Junie in Pretoria oorlede.

Sy is op 8 Maart 1951 as die oudste dogter van mnr. Neels en me. Baby van Niekerk op Breyten gebore.

Sy het daar grootgeword en was ’n trotse inwoner van dié dorpie tot 1975 toe haar gesin na Ermelo verhuis het.

Sy het haar laerskoolloopbaan aan Breyten Laerskool voltooi en was die hoofdogter in gr. 7.

Me. De Beer het haar hoërskoolloopbaan aan Ermelo Hoërskool as inwoner van die Adriani-koshuis begin.

Sy was van gr. 9 tot gr. 12 ’n leerder van Carolina Hoërskool en sy aangewys as die beste leerder in gr. 11 en is in haar matriekjaasr aangewys as Dux-leerder.

Me. De Beer het in April 1970 in die huwelik getree met mnr. Piet de Beer en daar is twee kinders, Theana in 1973 en Ruan in 1975, uit die huwelik gebore. Sy het vas geglo dat ’n mens se karakter gevorm word vanaf geboorte tot sowat ses-jarige ouderdom en het dus haar rol as voltydse ma met onderskeiding vervul totdat Ruan in 1982 skool toe is.

Ná skool was sy vir vier jaar werksaam by die destydse Trust Bank waar sy drie departementshoofposte beklee het.

Haar besigheidsloopbaan het werklik in 1982 as mede-eienaar en bestuurder van die eerste Kentucky Fried Chicken op Ermelo begin.

Sy het vanaf 1985 as alleeneienaar Juicy Luicy met groot welslae in die Sanlamsentrum bedryf.

Blomme was egter haar passie en sy het na vyf jaar dié onderneming verkoop en Marie se Blomwinkel oorgekoop waar sy haar vir 23 jaar ten volle uitgeleef het.

Marie se Blomwinkel was ’n hoogs gerespekteerde lid van Interflora en sy is vereer met die toekenning as lewenslange erelid van dié internasionale organisasie.

Lees ook: Ermeloër sterf op 91-jarige ouderdom

Sy was ook ’n aktiewe lid van die Ermelo Tuinbouklub waar sy vir ’n termyn as voorsitter gedien het.

Sy het op 42-jarige ouderdom die louere verwerf as nasionale blommebeoordelaar en het by etlike skoue en kompetisies opgetree. Haar positiewe kommentaar het baie deelnemers geïnspireer om nog beter te presteer.

Me. De Beer se blommerangskikkings, skeppings en kunswerke het groot luister verleen en smaak gegee aan baie geleenthede en funksies veral by skole, ondernemings, kerke, troues en begrafnisse.

Baie lof en erkenning is daarvoor aan haar toegedig.

Haar sake-aktiwiteite het tot ’n einde gekom toe sy haar koffiewinkel, Oulap se Rooi, weens gesondheidsprobleme moes verkoop.

Tydens die ampstermyn 1986/87 het sy as burgemeestersvrou Ermelo met onderskeiding verteenwoordig tydens besoeke aan 37 dorpe en stede.

Haar Pinktee-aanbieding was ’n spoggeleentheid en talle van die 34 besoekende burgemeestersvroue het daarna haar voorbeeld in hul tuisdorpe en stede gevolg.

“Joey was ’n formidabele, merkwaardige en skrander mens wie haar veelsydige talente met styl, grasie, finesse en passie met dankbaarheid en blydskap en tot voordeel van haar medemens uitgeleef het. Sy was by uitstek baie voorbeeldig, behulpsaam, vriendelik, nederig en liefdevoel teenoor almal. Sy was ’n opregte en eerlike vriendin en ’n eervolle familielid, ma, ouma, sielsgenoot en lewensmaat.

“Joey het ’n besondere verhouding met haar Skepper gehad, geweet en besef dat die lewe in geheel ’n geskenk is van ons Hemelse Vader en dit was vir haar kosbaar. Sy laat ’n groot leemte en ons gaan haar baie mis, maar gun haar die rus en sal haar nagedagtenis met die nodige erkentlikheid en dankbaarheid koester en vertroetel vir solank ons nog hier is.”

Die familie het hul opregte dankbaarheid aan drs. Solly Dindar van Breyten, Wilhelm Serfontein en Kobus Meintjies wat haar oor die jare medies versorg het en elkeen se ondersteuning en omgee terwyl sy haar laaste lewenstog voltooi het en ná haar afsterwe uitgespreek.

Die gesin gaan ’n privaat gedenkdiens in die Kirstenbos Botaniese Tuin hou. Dié tuin simboliseer vir hulle Joey wat haar altyd omring het met blomme en mooi tuine.

“Ons, Piet, André en Theana van der Walt, Ruan en Luscke de Beer en sewe kleinkinders Walden, Meiring, Hilde, Annabel, Nicolaas, Emely, Milan en enigste broer Neels van Niekerk, eer haar nagedagtenis.”

Related Articles

Back to top button