Local newsNews

Kinderhuis op Ermelo is ’n veilige hawe vir kinders

Vir die versorging van die kinders in die kinderhuis en gehalte diens, moet bykans R2 000 per kind per maand ingevorder word deur middel van donasies en geldinsamelings om die staatsubsidie aan te vul.

Die CMR Kinder- en Jeugsorgsentrum (kinderhuis) op Ermelo het in 2009 ontstaan toe die CMR-kantore die behoefte gehad het vir ’n veilige hawe vir kinders wat verwyder is sonder om die kinders uit die dorp na ’n ander hawe te stuur.

Me. Issie Dippenaar, wat op die CMR se bestuur gedien het, het in samewerking met die toesighouer van CMR Ermelo, me. Sonja van Niekerk, en me. Lynette Louw wat as toesighouer van die Departement van Maatskaplike Ontwikkeling gedien het, die droom van ’n kinderhuis laat bewaarheid.

Ermelo se kinderhuis is vir 29 kinders geregistreer en die ouderdomme van die kinders wat tans in die huis woon, wissel van pasgeborenes tot 18 jaar oud.

Daar is drie verskillende eenhede op Ermelo. Twee is op dieselfde perseel in Ermelo-Oos en die ander een is in die middedorp.

Die droom van ’n veilige hawe om ses kinders te kan huisves, het die span se wildste drome oortref toe die gemeenskap in die beginjare twee huise vir hulle beskikbaar gestel het.

Daar is besluit om die een eenheid te gebruik vir kinders wat op ’n kort termyn plasing benodig en die ander eenheid vir die kinders wat langer aanbly.

Me. Thelma Pretorius het die leisels van die kinderhuis in November 2016 oorgeneem nadat sy sedert die stigting van die kinderhuis by die projek betrokke was.

Sy het ’n beroep op die gemeenskap gedoen om hulself as vakansie-ouers of naweekouers beskikbaar te stel.

Lees ook: Trane toe ma en dogter na 38 jaar herenig

Daar is wel ’n keuringsproses waardeur die ouerpaar moet gaan, waartydens ’n onderhoud met hulle gedoen word.

Geld bly steeds ’n groot uitdaging en hoewel hulle ’n subsidie van die staat kry, is dit nie genoeg nie.

Hulle moet dus gereeld geldinsamelings hou.

Vir die versorging van die kinders in die kinderhuis en gehalte diens, moet bykans R2 000 per kind per maand ingevorder word deur middel van donasies en geldinsamelings om die staatsubsidie aan te vul.

Me. Pretorius het gesê die gemeenskap van Ermelo is baie by die kinders betrokke en dat die kinders bevoorreg is om elke maand sakgeld te kry.

Daar is reeds mense wat maandeliks ’n kind se sakgeld borg.

Dit is vir haar lekker om te sien as ’n ouerpaar in die proses is om ’n kind aan te neem en te sien hoe die kind ’n band begin vorm met dieouers en later uitsien na hul kuiers.

Die kinderhuis het onlangs ’n kinderfees by Laerskool JJ van der Merwe aangebied as deel van hul geldinsameling en beoog ook om dit ’n jaarlikse instelling te maak.

Daar sluit ook in Julie weer ’n maatskaplike werker by die kinderhuis aan, waarvoor hulle dankbaar is. Vir me. Pretorius is dit ’n droom om eendag ’n kind van die kinderhuis te sien wat verder kan gaan studeer. By die kinderhuis leer hulle ook die kinders dat hulle ’n toekoms het wat vir hulle voorlê, dat hulle niks het om voor skaam te wees of om voor terug te staan nie.

Me. Pretorius het die gemeenskap genooi om by die kinders te kom kuier en tyd saam met hulle te bestee.

Vrywilligers help ook graag in die baba-eenheid.

Die gemeenskap kan by elke aspek van die twee kinderhuise betrokke raak. Daar is ’n groot behoefte om die personeel se opleiding te betaal wat R17 000 per persoon beloop.

Hulle benodig tans babaspeelgoed, skryfbehoeftes, twee staan-eetstoeltjies, skooltasse en skoolskoene en vir die winter is hulle ook nog op soek na warm japonne en pantoffels, asook tekkies vir elke kind. Klere word gereeld benodig.

Daar is ook ’n paar projekte by die huise wat ’n nutsman benodig as iemand dalk tyd het om te help.

Vir enige navrae of donasies, skakel die kinderhuis by 087 550 0510.

Related Articles

Back to top button