Vera Alberts lê die tuig neer by Hoërskool Ermelo na 29 jaar

Hoewel me. Alberts nederig is oor die rol wat sy oor die jare by Hoërskool Ermelo vertolk het, beskryf haar kollegas haar as ’n raakvatter op wie se nommer daar altyd gedruk kon word.

Wanneer die skole op 22 Junie vir die wintervakansie sluit, groet Hoërskool Ermelo se me. Vera Alberts ná 29 jaar.

Die jong Vera Alberts het ná skool by NKP gebly en onderwys aan Tukkies gestudeer. Sy het haar vierde jaar by NKP afgelê.

Met ’n BA-graad agter die naam was haar eerste pos by die Hoër Handelskool Lettie Fouché op Vanderbijlpark waar sy vir sewe jaar skoolgehou het.

Ná nog sewe jaar by Hoërskool Warmbad, waar sy self op skool was, het sy ’n bevorderingspos as departementshoof van Afrikaans by Hoërskool Ermelo aanvaar.

Bevordering tot adjunkhoof het in 2004 gevolg.

As deel van dié skool se leierskorps het sy saam met vier hoofde daar gewerk.

Sy het met ’n glimlag die destydse onaangekondigde besoeke van inspekteurs en wat alles daarmee saamgegaan het, onthou. Volgens haar het dit vir haar darem altyd goed afgeloop.

In haar vroeë jare het ’n onderwyser ook nie laat blyk dat sy nie veel van ’n sportsoort wat sy moes afrig, geweet het nie maar het gou ’n plan gemaak om op hoogte te kom.

Sy het onder andere, nadat sy aangesê is om hokkie af te rig, by ’n hokkieklub vir volwassenes aangesluit en dit wat sy daar geleer het tydens oefeninge op die kinders toegepas.

Sy het haar B.Ed in onderwysbestuur in 1995 voltooi.

Nadat haar hoof by haar eerste skool haar op ’n Donderdagmiddag ingelig het dat sy die volgende dag vir ’n siek kollega moes instaan en 30 kinders op ’n naweeklange CSV-kamp moes vergesel en ook vir hulle moes kosmaak, het baie jare van kampkos maak gevolg. Tydens staptogte na die Drakensberge en leierskampe het sy baie leiers in wording gesien ontwikkel.

Die Erries het sedert 1999 die skourestuarant behartig en sy het ook daar haar kant gebring. Sy het gesê dat sonder elke jaar se gr. 11 leerders, hul ouers en haar kollegas sou dié restuarant nie suksesvol kon wees nie en sou die skool nie kon voortgaan daarmee nie.

Twee resepteboeke, een na aanleiding van ’n proe-aand wat die skool aangebied het en ’n tweede een wat tydens die skool se eeufeesvieringe die lig gesien het, het gunsteling resepte wat deur die jare tydens onthale, sportaangeleenthede en personeelfunksies beproef is, het die lig gesien.

Hoewel me. Alberts nederig is oor die rol wat sy oor die jare by Hoërskool Ermelo vertolk het, beskryf haar kollegas haar as ’n raakvatter op wie se nommer daar altyd gedruk kon word.

Die kinders was altyd haar grootste prioriteit en sy het hul belange altyd eerste gestel.

’n Oudleerder het gesê dat sy haar onderskeiding in Afrikaans in haar matriekjaar toeskryf aan die toegewydheid waarmee me. Alberts die vak aangebied het.

“Sy was streng maar regverdig,” het sy bygevoeg.

’n Kollega, me. Gerda van Zyl, het gesê dat me. Alberts werklik ’n groot verskil in die Afrikaanse departement en veral in stelwerk gemaak het en dat sy altyd ’n antwoord vir elke probleem gehad het.

“Sy het altyd goeddeurdagte besluite geneem en groot insette tot die akademie van die skool gelewer. Haar stiptelikheid en professionele optrede in alle gevalle sal ook onthou word. Die kinders het haar die respek gegee wat sy verdien het en die staande toejuiging wat die kinders haar tydens haar afskeid in die ouditorium gegee het, spreek daarvan.”

Me. Alberts het gegroet deur te sê dat sy dankbaar is vir elke kind, ouer en kollega wat haar pad gekruis en bygedra het om haar en haar kollegas se lewens ryper en makliker te maak. Sy het bygevoeg dat ouers wat, ten spyte daarvan dat hulle nie meer kinders in die skool het nie, steeds by die skool betrokke is, ook daartoe bydra dat dit met die skool goed gaan.

Laastens het sy haar Skepper bedank vir elke dag waarin sy kon skoolhou en dit kon doen wat sy altyd graag wou doen.

Vir nou gaan sy gehalte tyd saam met haar familie in Pretoria deurbring en dit wat die Here op haar pad bring, dag vir dag aanpak.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.
Exit mobile version