Twee ondernemings vul slaggate in Oosstraat op Ermelo

Oosstraat se toestand is beter vir motoriste, maar inwoners van die omgewing ly daaronder.

Inwoners van Oosstraat op Ermelo het hul dankbaarheid uitgespreek teenoor twee plaaslike ondernemings wat dit in hul eie hande geneem het om dié pad reg te maak.

Hulle het Dinsdag, 5 Junie gruis in die slaggate gegooi en vasgestamp om die pad weer toeganklik vir motoriste te maak.

Een van die inwoners het ’n beroep op die Msukaligwa Munisipaliteit gedoen om meer aandag aan dié pad te gee, selfs vir ’n tydperk te sluit en oor te doen.

“Ons is baie dankbaar teenoor die twee ondernemings wat die taak op hulself geneem het om die pad se slaggate te vul, maar met die grond wat in die pad gewerk is, sit ons nou met die probleem van stof wat ons huise oortrek,” het ’n inwoner gesê.

Die inwoner het ook gesê dat die oprit na hul huis elke tweede dag skoongespuit moet word en dat hulle nie kan waag om hul vensters oop te maak nie.

Hulle meen dat die klagtes wat hulle reeds aan die munisipaliteit gerig het, op dowe ore val.

Die Hoëvelder het in die storie Oosstraat word ’n risiko vir motoriste op 25 Mei berig oor die toestand van die pad, waar daar geen teer meer is nie en dat dit deur vragmotors uitgery is.

Daar is verder ook berig oor die straatligte in die omgewing wat al vir ’n geruime tyd buite werking is, wat die risiko vir padongelukke verhoog, veral vir motoriste wat nie die pad ken nie.

Msukaligwa Munisipaliteit is om kommentaar gevra, maar die koerant het nie teen druktyd enige kommentaar ontvang nie.

Exit mobile version