Local newsNews

Ermelo-boere spreek kommer uit oor grondonteiening

“Ons toekoms in Suid-Afrika is vir elke boer kommerwekkend”

Onteiening van grond is ’n onderwerp wat op almal se lippe is en swaar druk op die boeregemeenskap.

Volgens die Transvaalse Landbou-unie Suid-Afrika (TLU SA) het die ANC tydens ’n konferensie in Desember 2017 dit as ANC-beleid aanvaar dat die grondwet verander moet word om onteiening van grond sonder vergoeding moontlik te maak.

Daar is egter voorwaardes gestel voordat dit kan plaasvind.

Die voorwaardes wat by die ANC-konferensie gestel is, is dat die land se ekonomie nie deur onteiening van grond mag skade ly nie en dat voedselsekuriteit nie ’n onsekerheid mag word nie.

“Ons toekoms in Suid-Afrika is vir elke boer kommerwekkend,” het een van die plaaslike boere gesê. Ons grootste vrees is dat ons grond net gevat sal word en ek dink nie die meerderheid van die bevolking besef die ongelooflike impak wat dit gaan hê op ons land se ekonomie en voedselsekuriteit nie.”

Na afloop van die konferensie het die TLU SA uitgewys dat dit op diefstal sou neerkom en dat die ekonomie wel daaronder sal ly as bates onteien word sonder vergoeding.

Tydens ’n beraad wat deur AfriSake op 6 Maart byeengeroep is, het deelnemers hul kommer uitgespreek oor die gevolge van onteiening sonder vergoeding.

Van die punte wat genoem is, is die lewensvatbaarheid van kommersiële landbou, die toekoms van voedselproduksie, die toekoms van investering en ekonomiese groei, die vooruitsigte van rasseverhoudings na afloop van onteiening op grond van ras, asook groot kommer oor die banke en finansiële instellings aan wie die boere geld skuld.

Een van die plaaslike boere waarmee die Hoëvelder gepraat het, het genoem dat baie boere skuld by die banke het en het gewonder of die regering die skuld gaan vereffen.

“Die term grondbesit beteken nie voorspoed, geld en oorvloed nie,” het ’n ander plaaslike boer gesê. “Dit is ’n werk wat nooit ophou nie, jy moet ’n waarlike passie het vir boerdery.”

Die boer het ook genoem dat een van ons buurlande ’n goeie voorbeeld is van waar grond vrylik beskikbaar is maar dat armoede en hongersnood ’n daaglikse verskyning is.

“Ons bid elke dag vir ons land en sy boere en ons glo dat grondonteiening nie met bestaande boere gaan gebeur nie, maar dat staatsgronde aan mense gegee sal word, ongelukkig sal ons vir nou moet wag om te sien wat die toekoms vir ons inhou. Hoe die situasie hom gaan uitspeel, is nie moontlik om nou te kan voorspel nie.

“Wat egter ’n feit is, is dat indien die burgelike samelewing nie betrokke gaan raak nie, die ANC hierdie vakuum wat geskep is, sal vul soos dit hulle pas en dit kan nie toegelaat word nie,” het mnr. Bennie van Zyl, die hoofbestuurder van TLU SA, gesê.

Hy het in ’n voorlegging aan die konstitusionele oorsigkomitee genoem dat Suid-Afrika tans oor ’n ernstige werkloosheid- en armoedeprobleem beskik en dat dit slegs deur ekonomiese groei aangespreek kan word.

Hy het verder geskryf dat die enigste manier om ekonomiese groei te verkry, is om die vertroue van instansies wat in Suid-Afrika wil belê te oorwin en dat geen potensiële beleggers in ’n land sal belê waar die regering in ’n posisie is om bates te kan neem sonder om daarvoor te betaal.

Volgens die TLU moet die gemeenskap betrokke raak by ’n organisasie wat opstaan vir die beginsels en wat hierdie saak aanspreek.

Hulle moedig ook mense aan om hul stemme te hef en briewe aan die media van hulle keuse te rig, om paraat te wees en gemeenskapsveiligheidstrukture reg te hê wat voorsiening maak vir enige eiendomsgerigte misdaad.

Laastens moedig hulle almal aan om ’n geloofspad te stap en te glo in die krag van gebed.

“Die regte uitkoms sal dan seëvier.”

Related Articles

Back to top button