Local newsNews

Solidariteit Helpende Hand se Ons Winkel op Ermelo het iets wat almal se sak pas

Me. Janine Strydom beskryf Ons Winkel Ermelo as ’n skatkis vol bekostigbare skatte wat ’n verskil in die gemeenskap maak.

’n Droom om mense in nood te help, het me. Janine Strydom na Ermelo gebring.

Sy het Ons Winkel, ’n inisiatief van Solidariteit Helpende Hand, op 5 Januarie geopen.

Dit is die agtste van sy soort in Mpumalanga.

Die winkel is ’n bewys dat tweedehandse goedere ander mense nuwe hoop kan gee.

Assessering

Behalwe vir skenkings van die gemeenskap wat teen spotgoedkoop pryse verkoop word, kan behoeftige mense in die gemeenskap ook kwalifiseer vir drie maande se hulp. Die gesinne kan aansoek doen deur die assesseringsvorms in te vul, waarna ’n assessering gedoen word om te bepaal wat die nood is en ook hoe groot die gesin se nood is.

“Dit is vir ons belangrik om eers ’n behoorlike assessering te doen om te verseker dat daar waar ons hulp verleen, werklik ’n nood is,” het me. Strydom gesê.

Uit die winste van die winkel word daar ook ’n studielening, wat rentevry is, beskikbaar gestel vir kinders van die gemeenskap wat nie ’n geleentheid het om verder te studeer nie.

Matriekafskeid

’n Projek wat me. Strydom en Ons Winkel Ermelo wil aanpak, is om die matriekafskeid wat om die draai is vir meisies wat dit nie kan bekostig nie, ook besonders te maak.

Dit is ’n projek wat haar na aan die hart lê en me. Strydom doen ’n beroep op enige haarkappers, naeltegniekuste en grimeerkunstenaars om by die projek betrokke te raak.

Sy versoek ook die gemeenskap om enige ou aandrokke, aandpakke, skoene en juwele vir die projek te skenk.

“Ons is reeds besig om die kinders te identifiseer wat hulp vir die matriekafskeid nodig het.”

Skenkings

Ons Winkel is afhanklik van die gemeenskap se skenkings van enige bruikbare tweedehandse goedere wat in die winkel verkoop kan word om die behoeftiges in Ermelo te kan ondersteun.

Items wat geskenk kan word, sluit in klere, veral kinderklere, skoene, boeke, gereedskap, kombuisware, linne, gordyne, speelgoed, elektriese ware en kampgoedere.

“In die winkel kan mense die goedere koop wat hulle andersins dalk nie kan bekostig nie.”

Me. Strydom het ook genoem dat daar nou in die winter ’n groot aanvraag is vir winterklere, komberse en kussings en dat die aanvraag vir tweedehandse meubels ook toeneem.

Mense kan ook nie-bederfbare kos vir die winkel se koskas skenk wat aan behoeftige gesinne wat maandeliks gehelp word met die basiese behoeftes, geskenk word.

Ermelo-gemeenskap

Me. Strydom is oorspronklik van Bethal en is slegs ’n paar maande op Ermelo, maar sy beskryf Ermelo reeds as ’n gemeenskap met oop harte en hande.

“Ek is mal oor Ermelo en sy mense. Ek het al wonderlike mense leer ken wat van die begin af baie goed was vir my.”

Sy het vertel dat sy lank gebid het vir die geleentheid om ander mense te help en om ’n verskil te maak in ander se lewens en dat sy die Here se hand werklik oor dié geleentheid gevoel het.

Sy het die geleentheid om die winkel op Ermelo te bein, met albei hande aangegryp en dit is drie maande later goedgekeur. Me. Strydom het vertel dat dit vir haar wonderlik is om ander mense te help en dat sy nie ’n dankie verwag nie.

Sy wil net saans in die bed klim en aan die dag terugdink en weet sy het ’n verskil in iemand se lewe gemaak. “Die winkel het ongelooflik baie gegroei sedert dit vyf maande gelede oopgemaak het.”

Me Strydom het die gemeenskap bedank vir hul weeklikse ondersteuning en die skenkings wat ontvang word. Sy het mense genooi om in die winkel te kom rond snuffel vir versteekte skatte.

Ons Winkel is in De Clerqstraat 33 langs Landbank geleë.Skakel me. Strydom by 083 736 7762.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Related Articles

Back to top button