Local newsNews

Lt.-kol. Bakkies Groenewald groet SAPD ná 41 jaar

Sy betrokkenheid by die Ermelo Skou het ook gesorg dat die drie dae van dié skou op die misdaadfront so glad as moontlik verloop.

Lt.-kol. Bakkies Groenewald het sy uniform vir siviele drag verruil ná 41 jaar diens in die SAPD.

Hy het sy loopbaan aan die einde van 1975 as ’n jong konstabel by die polisiestasie in Parow, Kaapstad begin en het vroeg in 1976 na die polisiekollege in Pretoria gegaan vir sy basiese opleiding.

Vars uit die polisiekollege is die groep na Soweto om tydens die onluste van 1976 in dié woongebied diens te doen.

Daarna het hy, soos hy deur die range gevorder het, in Walvisbaai, Jeppe, Zeerust, Pretoria, Alberton en Piet Retief gewerk, deur die jare grensdiens verrig en is in 1991 na Ermelo verplaas waar hy as bevelvoerder van die sigbare polisiëringseenheid aangestel is.

Nadat dié eenheid ontbind is, het hy lid van die “cluster”-kommando geword waar hy tot sy aftrede gewerk het.

Hy is getroud met Martie Roelien, nou ’n mediese dokter en Roelof, ’n wetenskaplike wat in Amerika werk, is uit die huwelik gebore.Lt.-kol. Groenewald was altyd te sien waar hy eers in sy Jetta en later in ’n vangwa patrolering op die dorp gedoen het.

Hy was ook altyd die polisiebeampte wat tydens die “Jail ’n Bail”-geldinsamelingsgeleenthede vir Kansa en die Ladies Circle die “inhegtenisnames” gemaak het en gesorg het dat die “beskuldigdes” in dié organisasies se hof verskyn het.

Lees ook: Wees versigtig vir misdadigers

Sy betrokkenheid by die Ermelo Skou het ook gesorg dat die drie dae van dié skou op die misdaadfront so glad as moontlik verloop.

“My gesin se verdraagsaamheid teenoor my werk het my lewe baie makliker gemaak en ek is dankbaar daarvoor en vir my Hemelse Vader wat my altyd beskerm het,” het hy gesê.

Lt.-kol. Groenewald het ook bygevoeg dat hy ’n groot deel van sy lewe aan die polisie afgestaan het, kollegas gesien kom en gaan het, etlikes aan die dood moes afstaan en dat daar goeie en moeilike tye was.

Hy wou in sy lewe nooit iets anders doen as om ’n polisieman te wees nie.

Op ’n vraag oor wat sy onmiddellike toekomsplanne is, het hy laggend gesê dat hy vir eers werk in en om die huis gaan doen, vir sy kinders in Amerika gaan kuier en dit dan van daar af sal neem.

Related Articles

Back to top button