MunicipalNews

[VIDEO] Oosstraat word ’n groot risiko vir motoriste in Ermelo

Toestand van Oosstraat versleg by die dag.

Die toestand van die pad in Oosstraat is van só ’n aard dat vragmotors die sypaadjies aan albei kante begin gebruik.

Die Hoëvelder het onlangs klagtes van die inwoners van Oosstraat op Ermelo ontvang.

“Ons vrees vir die veiligheid van die motoriste wat van die pad gebruik maak en nie bewus van die toestand is nie,” het een van die inwoners gesê.

In die uur wat die Hoëvelder in Oosstraat was, het bykans 90 vragmotors van die pad gebruik gemaak.

Daar is duidelike ompaaie opgemerk waar motors en vragmotors een van die inwoners se sypaadjie gebruik, asook die veld langs die pad.

Die inwoners het hul bekommernis uitgespreek oor die voetgangers wat van die sypaadjies gebruik maak.

Daar is geen waarskuwingtekens wat motoriste waarsku oor die toestand van die pad nie en geen straatligte in die omgewing is in ’n werkende toestand nie, wat volgens inwoners die kanse vir ongelukke vergroot.

Waaroor inwoners wonder, is wie verantwoordelik gaan wees as ’n ongeluk op dié gedeelte van die pad iemand se lewe eis. Mense hoor glo gereeld saans hoe voertuie remme aanslaan en dat menige motoriste met kleiner motors nie kans sien vir die pad nie en eerder omdraai en ’n ander roete volg.

’n Inwoner het vertel dat bykans 2 000 vragmotors daagliks van die pad gebruik maak en die lewe vir inwoners ondraaglik maak.

“Ons huise is gedurig vol stof en ons sypaadjies word verwoes en lyk onnet. Ons kan die motoriste egter nie kwalik neem dat hulle eerder op die sypaadjies ry as in die pad self nie.”

Die stof het inwoners gedwing om die mure om hul wonings hoër te maak in ’n poging om die stof te verminder.

In die reënseisoen is die pad ’n modderbad en moet hulle self voor hul huise se ingange skoonmaak. Inwoners het die probleem al baie kere by die munisipaliteit aangemeld, maar niks word aan die pad gedoen doen.

“Almal hou hulle blind vir die probleem in plaas daarvan om ’n plan te beraam om die pad reg te maak.”

Die inwoners stel voor dat die munisipaliteit ’n ander roete aan die vragmotors voorsien totdat die pad reggemaak is.

Geen kommentaar is teen druktyd van die munisipaliteit ontvang nie.

Oosstraat se inwoners kla oor die toestand van die pad, waar vragmotors verkies om eerder op hulle sypaadjies te ry as in die pad.
Oosstraat se inwoners kla oor die toestand van die pad, waar vragmotors verkies om eerder op hul sypaadjies te ry as in die pad.

Related Articles

Back to top button