MunicipalNews

Ontstoke Ermelo inwoners meen die stortingsterrein is ‘n gemors

Volgens inwoners word die ingang na die stortingsterrein geblokkeer omdat die vuilis sommer in die ingang afgegooi word en toegang tot die stortingsterrein bemoeilik word.

Baie is al geskryf en gesê oor die toestand van die Ermelo-stortingsterrein in die noordelike deel van die dorp.

Ontstoke inwoners het weer die Hoëvelder genader oor dié saak wat vir baie ’n groot probleem is.

Volgens inwoners word die ingang na die stortingsterrein geblokkeer omdat die vuilis sommer in die ingang afgegooi word en toegang tot die stortingsterrein bemoeilik word.

Die Hoëvelder het ondersoek ingestel. ’n Gesig wat vir baie mense nie aanvaarbaar sal wees nie en verklaar waarom inwoners dit nodig ag om te kla, het ons begroet.

Kort na die afdraai vanaf die hoofpad is rommel weerskante van die pad en in die veld rondom die omheinde gebied gestrooi.

’n Stank het ook in die lug gehang.

“Dis ’n gemors. Van die mense wat hier kom aas, bestorm jou motor voordat jy stilhou om te sien wat daar in jou vuilgoedsakke is.

“Die stortingsterrein is ’n broeiplek vir kieme en vlieë en hou regtig ’n groot gesondheidsrisiko in en dis nie van vandag af dat die terrein ’n probleem en ’n seer-oog vir Ermelo is nie,” het ’n inwoner wat verkies om anoniem te bly, gesê.

Volgens munisipale werkers op die terrein het werkers die afgelope tyd weens nie-betaling aan die munisipaliteit se kant gestaak, maar het Maandag weer diens hervat.

Hy het bygevoeg dat kontrakteurs op ’n “geen-betaling, geen-werkbeginsel” dienste verrig.

Mense met beskermende klere en mense wat nie die aanbevole drag gedra het nie, was tydens ons besoek sigbaar op die terrein.

Op ’n vraag oor wie verantwoordelik is vir die opruiming van die terrein, het die werker gesê dat die Community Workers Programme die opruiming moet doen en dat hy nie seker is of die werkers reeds in kennis gestel is oor die probleem nie en óf en wanneer opruigmingswerk sal begin nie.

Die Hoëvelder het laat verlede jaar berig dat AfriForum jaarliks ’n vullisterrein-ouditveldtog loods en dat hulle slegs 42 persent aan Ermelo se stortingsterrein toegeken het.

Volgens AfriForum bepaal die wet op nasionale omgewingsbestuur: Vuillis (Wet no. 59 van 2008) dat ’n vuillisterrein aan sekere vereistes moet voldoen wat faktore soos toegangsbeheer, omheining, brandregulasies en onwettige storting insluit.

Om aan die wetgewing te voldoen, moet ’n vullisterrein minstens 80 persent behaal.

Navrae is aan die munisipaliteit gerig, maar geen kommentaar is teen druktyd ontvang nie.

Related Articles

Back to top button