GeneralNews

LJ de Jager in Steve Biko hospitaal na aneurisme bars

“Hy was deur dit alles by sy bewussyn en kon met ons gesels,” het sy pa, mnr. Leon de Jager, vertel.

’n Aneurisme het op Maandag, 26 Maart in mnr. LJ de Jager (35) se brein gebars en binne die bestek van twee dae, na aanvanklike behandeling by ’n plaaslike Medi Clinic, is hy in die intensiewe sorgeenheid in Steve Biko hospitaal in Pretoria opgeneem.

’n Aneurisme kom voor wanneer ’n deel van ’n arteriewand verswak wat dit dan toelaat om abnormaal te swel.

Ten tye van mnr. De Jager se opname in die hospitaal, was daar bloeding en gepaardgaande drukking op die brein wat eers gestabiliseer moes word voordat die dokters en personeel enige verdere stappe kon neem en toetse kon doen.

“Hy was deur dit alles by sy bewussyn en kon met ons gesels,” het sy pa, mnr. Leon de Jager, vertel.

’n Angiogram is op Woensdag, 11 April gedoen om die skade te bepaal asook enige regstellings te doen.

Na afloop van die assessering is besluit om “coils” in te sit.

Volgens sy pa, was die proses ’n sukses, maar gedurende die nag, het hy ’n beroerte gehad, kon daarna nie praat nie en het die gebruik van sy ledemate verloor.

“Wat ’n skok vir ons almal.

“Ons was almal die een oomblik nog vol hoop en die volgende oomblik hoor ons die woorde, ‘jou kind sal weer moet leer praat en loop’.”

Die gesin bly egter positief en is dankbaar dat LJ nog jonk is, wat hom ’n groter kans op vinnige herstel gee.

Sy pa se inskrywing op 20 April op ’n sosiale mediagroep het gelui dat sy seun self kan asemhaal, sy familie herken en sy oë knip as hulle met hom gesels.

Hulle het nog gewag vir die dokters om te bepaal tot watter mate hy kan sluk.

Die pad van rehabilitasie is nog lank, onvoorspelbaar en ’n baie duur pad om te stap, maar die gesin het hul vertroue volkome in die Here geplaas met die wete dat Hy hulle nooit sal verlaat en in die steek laat nie.

Op LJ se sosiale groep het sy pa gesê dat hulle kan getuig van die wonderwerke wat die afgelope drie weke in LJ, maar ook sy gesin se lewens plaasgevind het.

Hulle sien uit daarna om God se hand in LJ se gesondwordproses te sien en om as gesin te kan getuig oor die fyn, delikate en kragtige werk wat God in hulle almal se lewens laat gebeur het.

Lees ook: Miané van der Merwe goed op die herstelpad

“Ons is verras deur die oorweldigende reaksie van mense.

“Dit hou ons hande omhoog en ons kniëe op die grond.”

Hy het sy sy seun beskryf as joviaal wat ’n mens van ver af reeds gehoor het, soms nog lank voor jy hom gesien het.

Ook as iemand wat gou ’n geselsie met vreemde mense aangeknoop het en wat vriende kon laat skaterlag.

“Ons staan verbaas om te sien met hoeveel mense sy paaie al gekruis het en watter impak hy op hul lewens gelaat het.”

LJ is die afgelope vyf maande al werksaam by Ligbron Akademie vir Tegnologie as terreinbestuurder, maar is ook gereeld te siene op die gholfbaan en by die rolbalklub.

Die gesin het almal wat hulle ondersteun en met gebed intree, bedank.

“Woorde kan nie ons dankbaarheid beskryf nie.”

Hulle het al die eer aan hulle Hemelse Vader gegee wat hulle anker en steunpilaar is.

LJ sal uitgerekte behandeling en rehabilitasie moet ontvang waarvoor skenkings noodsaaklik is.

’n Trustfonds is vir mediese- en rehabilitasiekoste by Pas Prokureurs geskep, wat deur die firma behartig word.

Vir meer nuus besoek gerus ons ander webblaaie.

Ridge Times, Standerton Advertiser & Highvelder

”Like” ons op Facebook en volg ons op Twitter.

 

Related Articles

Back to top button