Erries sluit kwartaal op hoogtepunt af

Erries se jaarlikse groentjiekonsert en alles wat daarmee gepaard gaan, het op Maandag, 26 Maart plaasgevind.

Erries se jaarlikse groentjiekonsert en alles wat daarmee gepaard gaan, het op Maandag, 26 Maart plaasgevind.

Die Hoëvelder het reeds berig oor die vlotoptog na Laerskool JJ van der Merwe vroeër die oggend.

Teen die aand het die pret voortgeduur met elke huis: Veltman, Nelstehuis en Dorp, se huisdanse, gevolg deur die konsert wat deur die gr.8’s opgevoer is.

Dié konsert was net vir die leerders en Dinsdagaand het ouers en vriende ’n beurt gekry om te deel in die pret. Die ouditorium was volgepak van mense wat dié opvoering wou meemaak.

Temas wat uitgebeeld moes word, was: respek, vink tot valk en Errie-vuur. Elke huis het ook twee animasiekarakters gehad wat deel van hul opvoering moes wees.

Die kinders was self verantwoordelik vir die dekor en die uitwerk van hul danspassies, sowel as ’n verrassingselement, wat die middag voor die opvoering eers aan die huise gegee is, sowel as ’n nuusberig, advertensie en groentjiedans, waaraan die hele gr. 8-groep moes deelneem, .

Van die gehoor het gereeld aanmerkings gemaak oor die kinders se kreatiwiteit en die harde werk wat in die voorbereiding moes gegaan het.

Huis Veltman, EHS se seunskoshuis, het die volgende pryse ingepalm: beste dirigente, beste huisdans, beste uitbeelding van tema, beste advertensie, beste kostuums, beste humor, beste storieverteller (Walter van der Walt), beste akteur (Diederik van der Walt), beste konsert, en is ook as algehele wenner aangewys.

Nelstehuis, die meisiekoshuis, het die prys vir die beste dekor, beste nuusberig en beste aktrise (Petra-Marie Arnoldi) gewen.

Dorp het die beste groentjiedans- en beste gebruik van die verrassingselementprys gewen.

Exit mobile version