Wesselstraat verander in ’n modderbad na die reën

Meeste van die teerpaaie in Msukaligwa het slaggate en daar word voortdurend aandag gegee aan die paaie, indien hulpbronne beskikbaar is.

Die Hoëvelder het op Vrydag, 23 Maart berig oor Wesselstraat wat byna oorstroom het en slaggate in gedeeltes van dié pad so groot is dat dit vir motoriste met kleiner voertuie byna ontoeganklik is.

Selfs die vragmotorbestuurders is maar skrikkerig om die pad aan te durf en kom byna tot stilstand voor sommige slaggate, terwyl die vragmotors van die ander rigting eerder die ompad deur die veld langs die pad verkies.

Een van die vragmotorbestuurders, wat gereeld die pad ry, het sy kommer oor hulle veiligheid uitgespreek.

Die Hoëvelder het navraag gedoen by die Msukaligwa Munisipaliteit oor die toestand van dié pad.

Lees ook: [VIDEO] Wesselstraat oorstroom

Volgens mnr. Mandla Zwane, woordvoerder, het hulle om finansiële bystand aangevra vanaf die Gert Sibande Distriksmunisipaliteit (GSDM) asook onlangs vanaf Eskom, die saak is nog hangend.

“Weerstoestande, die hoeveelheid swaarvoertuie wat die pad gebruik en die ouderdom van die paaie se infrastruktuur is van die faktore wat tot slaggate bydra,” het mnr. Zwane gesê.

Hy het ook gesê dat sowat 150 slaggate weekliks by die munisipaliteit aangemeld word.

“Die paaie-afdeling konsentreer op die hoof- en taxiroetes na en van die middedorp, sowel as die noodversoeke van die gemeenskap.

“Meeste van die teerpaaie in Msukaligwa het slaggate en daar word voortdurend aandag gegee aan die paaie, indien hulpbronne beskikbaar is.”

“Indien geen materiaal beskikbaar is nie, vul die munisipaliteit die slaggate met gruis as ’n tydelike oplossing.”

Volgens hom, is daar wel planne om die paaie te herstel, maar prioriteite verander van tyd tot tyd.

Soos berig, het mnr. Zwane gesê dat hulle met die hulp van Gert Sibande Distriksmunisipaliteit (GSDM) en die Departement van Openbare

Werke, slaggate verlede jaar met Ferricrete gruis opgevul het.

“Die gruis is ’n goeie gehalte materiaal wat gereeld vir padkonstruksie gebruik word.”

Mnr. Zwane het lede van die gemeenskap bedank, wat help deur slaggate op te vul met bakstene, sonder enige finansiële of persoonlike vergoeding.

Hy het ook gesê dat enige persoon wat bystand ten opsigte van kundigheid of hulpbronne kan verleen, welkom is om die Munisipale Bestuurder te kom sien.

“Saam kan ons meer doen,” het hy afgesluit.

oznor

Vir meer nuus besoek gerus ons ander webblaaie.

Ridge Times, Standerton Advertiser & Highvelder

”Like” ons op Facebook en volg ons op Twitter.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.
Exit mobile version