Local newsNews

Me. Miems Goosen vier vanjaar 105 jaar

Sy is in 1913 op Swartwater-plaas op Bethal gebore en is die derde-oudste kind van sewe.

Me. Miems Goosen, ’n inwoner van die SAVF-Huis op Ermelo, het op 7 Maart 105 jaar oud geword.

Sy is in 1913 op Swartwater-plaas op Bethal gebore en is die derde-oudste kind van sewe.

Sy het haar skoolloopbaan by ’n plaasskool in die Bethal-omgewing voltooi.

Me. Goosen het in 1929 na die plaas Scheepersvlei in die Sheepmoor-distrik verhuis en is in 1936 na Ermelo waar sy by Spath’s Garage ’n adminitratiewe pos aanvaar het.

Dis is hier waar sy haar man, Jan, ontmoet het en hulle is in 1943 in die huwelik bevestig.

Vier kinders is uit die huwelik gebore.

Lees ook: Miané van der Merwe benodig ’n helpende hand

Hulle was 29 jaar getroud in 1972 tydens die afsterwe van mnr. Goosen.

Volgens haar dogter, me. Marie-Elize Goosen, het sy die tyd saam met hom as te min beskryf.

Haar kinders praat met groot lof van die voorbeeld wat hulle ouers oor die huwelik gestel het en hulle het altyd sekergemaak dat hulle kinders voorsien is met dit wat nodig is.

Me. Goosen het self haar kinders se klere gemaak wat aandui dat haar hande vir niks verkeerd gestaan het nie.

Sy kan ook spog met drie kleinkinders en het verlede jaar ’n agterkleinkind ryker geword.

Me. Goosen het by verskeie sakeondernemings op Ermelo gewerk en ook die pos van huismoeder by een van die koshuise van die destydse Hoër Handelskool beklee.

Vanaf 1963 tot 1986 het sy die NG Moedergemeente se kerkkantoor beman en ook opgetree as die koster van die gemeente

Volgens haar dogter, praat die dominees wat in die tydperk saam met haar gewerk het, met groot lof van haar.

Me. Goosen het al die veranderinge sien gebeur soos van kerse en olielampe na elektrisiteit, van tiekiebokse na selfone, van ponde, sjielings en pennies na rand en sent.

“Sy is altyd gewillig om te leer en aan te pas,” aldus haar dogter.

Haar kinders beskryf haar as saggeaard, liefdevol en diepgelowig.

Hulle het haar die lof toegeswaai van ’n vrou wat vir haar medemens lewe  en altyd gewillig is om te luister.

Vir meer nuus besoek gerus ons ander webblaaie.

Ridge Times, Standerton Advertiser & Highvelder

”Like” ons op Facebook en volg ons op Twitter.

Related Articles

Back to top button