GeneralLocal newsNews

Joe de Wet ken van vinnig praat

Volgens mnr. De Wet is die werk van ’n afslaer ’n kuns wat stamina en vaardigheid vereis.

Mnr. Joe de Wet (80) is al vir 51 jaar ’n afslaer en hy sê om dié werk te doen, is in sy bloed en hy sal dit doen so lank as wat hy kan.

Hy is gebore en getoë op Memel en dink daardie wêreld is ’n stukkie paradys.

Mnr. De Wet het gesê dat hy nie veel van sy kinderjare kan vertel nie. “Ek was ’n soet seuntjie wat rugby gespeel het,” het hy met ’n glimlag gesê.

Ná skool het hy sy afslaerskursus in Newtown in Johannesburg gedoen waar hy eers as leerling-, daarna as junior- en toe as stoetafslaer gekwalifiseer het.

Hy het ander diere ook opgeveil, maar sy passie was en bly steeds beeste.

Mnr. en me. Sarie de Wet is in 1964 getroud en het hulle drie kinders, Hans, Erna en Nita.

Hulle het ook twee kleinkinders waarop hulle baie trots is.

Mnr. De Wet is later na Klerksdorp waar hy twee gelukkige jare in sy lewe en loopbaan deurgebring het.

Potgietersrus het daarna gevolg waar die gesin 13 maande gewoon het.

Hulle het in November 1967 na Ermelo verhuis waar mnr. De Wet vir baie jare vir dieselfde maatskappy opgeveil het.

Hy het vir 26 jaar elke Vrydag na Standerton gery om daar beeste op te veil.

Volgens mnr. De Wet is die werk van ’n afslaer ’n kuns wat stamina en vaardigheid vereis.

“Jy moet ook jou koper en verkoper goed ken en veral jou koper se lyftaal goed kan lees.

“Jou sig, gehoor en waarnemingsvermoë moet ook baie goed wees en om ’n goeie afslaer te wees, kom met jare se oefening en ondervinding.”

Mnr. De Wet se mentor, mnr. Wallie Zietsman, het altyd gesê het: “Jy kry baie opveilers, maar min afslaers.”

Mnr. De Wet het dit ter harte geneem.

Hy het homself geleer en mnr. Zietsman se styl, wat volgens hom van die beste is, aangeneem.

Mnr. Van Wyk is nie net ’n afslaer nie, hy was in sy jonger jare ook ’n goeie sportman.

Teen sy kantoormure hang etlike uitknipsels van sy jare as gholfspeler waartydens hy van ’n drie voorgee af gespeel het.

Hy het 24 wedstryde vir die Hoëveld gespeel, was by Ermelo Gholfklub betrokke en het landwyd gholf gespeel.

Sy seun, Hans, het in sy pa se voetspore gevolg nadat sy pa hom touwys gemaak het, en speel gholf van ’n een voorgee af.

Die sportbloed vloei dik in dié pa en seun se are en Hans beoefen ook ander sportsoorte.

Gholf was nie mnr. De Wet se enigte talent nie en hy het ses jaar vir die destydse Noordoos-Vrystaat rugby gespeel.

Hy het ook tennis gespeel en hengel graag as die geleentheid hom voordoen.

Geskiedenis en politiek is twee dinge waaroor hy passievol gesels en het vertel dat sy oupa Genl. De Wet was en dat sy een broer, Carel de Wet, wat ook ’n mediese dokter was, sedert 1953 in die politiek betrokke was en in 1958 ’n parlementslid geword het.

Hy was ook vir twee termyne die ambassadeur in Londen.

In 1974 het mnr. De Wet vir nege maande in Europa getoer waar hy volgens hom bevoorreg was om in Buckingham Paleis saam met die koningin van Engeland tee te drink en te gesels.

Lande soos Spanje, Italië, Frankryk, Holland, Switserland en Skotland was ook op sy besoekerslys.

Vir solank as wat sy gesondheid hom toelaat, sal mnr. Van Wyk se afslaerstem nog by die maandveilings gehoor word.

Related Articles

Back to top button