Divan Laing slaan rol in 7 de Laan los

“Ek was lekker op my senuwees en het eers drie weke later gehoor dat ek wel die rol gekry het,” het hy vertel.

Divan Laing, ’n oud-leerling van Hoërskool Ermelo, het onlangs sy verskyning in die sepie, 7de Laan gemaak.

Hy het in November verlede jaar vir ’n oudisie gegaan vir die rol van Harry, ’n regstudent wat saam met sy beste vriend, Gerrie in die “Hillside Heights”, in ‘n woonstelblok in 7de Laan, ingetrek het.

Soos die tyd verloop, kom kykers agter dat dié twee latte met onwettige bedrywighede besig is.

Die oudisie is op die stel van Oppikoffie, 7de Laan se koffiewinkel, gedoen.

Lees ook: ’n Geselsie met die skouvoorsitter

Divan het saam met Arno Greeff, wat die rol van Gerrie vertolk, drie tonele opgeneem.

“Ek was lekker op my senuwees en het eers drie weke later gehoor dat ek wel die rol gekry het,” het hy vertel.

Hy het na skool by die AFDA in Johannesburg studeer en sy B.A.Drama-graad in 2016 voltooi.

Tydens sy eerstejaar het die agentskap, Talent ect, hom raakgesien en ’n kontrak aangebied, maar hy het eers oudisies na sy studies begin bywoon.

Een van sy eerste oudisies was vir ’n teaterstuk genaamd Hoopvol van Zak Hendrikz.

In dié stuk het hy die rol vertolk van Ben en Bobby.

“Dit het een persoon gevat om in my te glo.”

Hy het gedurende dié produksie reg oor Suid-Afrika getoer en daarna het hy ’n rol in die teaterstuk Vir Ander gekry, waar hy die karakter Ray, ’n jongman wat met ’n karbattery doodgeskok word, vertolk het.

Kleiner rolle wat hy al gespeel het was in Getroud met Rugby en Generations.

Divan gaan ook vir ’n tydperk te siene wees, saam met Sandra Prinsloo, in die nuwe Kyknet-reeks, Mense Mense, wat van April op televisie sal verskyn.

Sy rolmodel in die bedryf moet Zak Hendrikz wees.

“Sy werksetiek inspireer my en hy het my geleer om jou voete plat op die aarde te hou en altyd nederig te wees.”

Hy wou by die akteur Annelise Weiland, Hilda in 7de Laan, dadelik alles leer.

Volgens hom, het haar menswees hom geboei vamweë die verskil met haar karakter in 7de Laan.

“Toneelspel is seker een van die moeilikste bedrywe om in te wees, maar dit is vir my soos asemhaal.

“ As ek nie toneelwerk kan beoefen nie, kan ek nie asemhaal nie.”

Om in die bedryf te wees, is baie harde werk en saans na die dag se verrigtinge voor die kamera, moet jy gaan woorde leer vir die volgende dag se tonele.

“Ek het ’n liefde vir die kuns en toneelspeel loop saam met die bloed in my are.”

As ‘n jong seun het hy homself ingeleef in elke verhaal wat hy gekyk het sodat hy saam met die karakters gelag en soms gehuil het.

Hy het toe al geweet dat hy mense wil laat voel, laat lag en laat huil.

Divan was van gr. 8 tot gr. 10 in Ligbron Akademie vir Tegnologie en was in sy gr. 9 jaar deel van die musiekblyspel, It’s a Kinda Magic, waar hy die rol van die ‘mime’ gespeel het.

Gedurende die tweede bedryf van die blyspel het hy, rug na die gehoor met al die mense se aandag op hom, geweet dat hy toneelwerk sy loopbaan wil maak.

“Ek het ’n tweede werk as ’n eiendomsagent begin omdat akteurs nie so baie betaal word as wat mense dink nie.”

Divan se droom is net om toneelwerk te kan beoefen en wil graag ’n rol in ’n film, waarin hy homself werklik kan inleef, doen.

Hy het afgesluit met een van sy gunsteling sêgoed van Ellen DeGenereres: “Be kind to one another”.

 

Vir meer nuus besoek gerus ons ander webblaaie.

Ridge Times, Standerton Advertiser & Highvelder

”Like” ons op Facebook en volg ons op Twitter.

Exit mobile version