Local newsNews

’n Geselsie met die skouvoorsitter

Hy is van mening dat die skou een keer ’n jaar ’n geleentheid bied aan vriende en familie om gesellig saam te kuier.

Die nuwe skouvoorsitter, Jan Kirk, is nie ’n man van vele woorde nie.

“Hoewel dit my eerste termyn as voorsitter is, sit ek baie gemaklik in die stoel want ek pas net die vaardighede wat ek deur die loop van my lewe geleer het, toe.”

Volgens hom maak sy daaglikse omgang met mense en die aard van sy werk dit baie maklikler.

Sy komitee en kantoordames help ook baie op dinge glad te laat verloop.

Op ’n vraag van die Hoëvelder oor waarom hy bereid is om baie van sy tyd vrywillig aan die gemeenskap af te staan, het hy geantwoord dat dit net ’n verlengstuk van sy gemeenskapswerk as polisieman is.

Hy is van mening dat die skou een keer ’n jaar ’n geleentheid bied aan vriende en familie om gesellig saam te kuier.

Hy gee alle eer aan sy Hemelse Vader want hy glo dat sonder Sy genade die skoureëlings nie so glad sou verloop het en die komitee nie, jaar na jaar, ’n skou sou kon aanbied nie.

Jan loop ’n lang pad met die skou en is al sowat 18 jaar betrokke.

Hy doen dit vir die liefde van die saak en dis lekker om te sien hoe die mense die skou, wat vir baie ’n hoogtepunt op hul jaarlikse kalender is, geniet.

Hy is positief oor die komende skou en glo daar gaan vermaak wees vir groot en klein en dat dit ’n sukses gaan wees.

Dis met trots dat hy vertel het dat daar vir die eerste keer elke aand drie bekende kunstenaars op die verhoog gaan wees, wat volgens hom, die eerste keer is dat dit op Ermelo se skou gebeur.

Deur die dag gaan plaaslike kunstenaars hul stemme op die verhoog laat hoor.

Hy wil nie die aap heeltemal uit die mou laat nie, maar het gesê dat daar nuwe uitstallers gaan wees wat aandag gaan trek.

“Alles is in plek vir die skou en ons wag net vir die mense om op te daag.”

Die hoofingang van die skou het ’n gedaanteverwisseling ondergaan en hy het die kunstenaars wat daarvoor verantwoordelik was, bedank vir hul harde werk.

Hy het ook vir Sonja Kirk en haar helpers, wat die kosstalletjies se vooraansig verander het, bedank.

Die nuwe skouvoorsitter is reg vir die taak wat op hom wag.

 

 

Vir meer nuus besoek gerus ons ander webblaaie.

Ridge Times, Standerton Advertiser & Highvelder

”Like” ons op Facebook en volg ons op Twitter.

Related Articles

Back to top button