Tannie Elsie Pretorius sterf na ’n lang siekbed

Sy was vir baie jare ook deel van die Sustersvereniging van die Nederduits Hervormde Kerk Ermelo waar haar mooi sangstem nou stil gaan wees.

Tannie Elsie Pretorius, bekende inwoner, is op 16 Februarie in die ouderdom van 79 jaar na’n lang siekbed oorlede.

Sy is op 24 Januarie 1939 op Breyten gebore en het ook daar skoolgegaan.

Tannie Elsie het later jare as verpleegkundige by die Ermelo Hospitaal gewerk en in die verpleegsterstehuis gewoon.

Sy is op 27 Aprl 1957 met Willie Pretorius getroud en drie seuns Wouter, Kobus en Thys is uit die huwelik gebore.

In 1970 het sy by Laerskool Ermelo begin werk en het vir 27 jaar getrou diensgedoen.

Sy was vir baie jare ook deel van die Sustersvereniging van die Nederduits Hervormde Kerk Ermelo waar haar mooi sangstem nou stil gaan wees.

Sy wou net altyd almal help waar sy kan en het gereeld besoekies by die SAVF-tehuis gaan aflê om siekes daar te besoek.

Lees ook:  Gideon Bührmann sterf na lang siekbed

Tannie Elsie het altyd tyd gehad vir ’n vinnige geselsie en ’n grappie met iemand.

Volgens haar kinders en skoonkinders was sy ’n groot omgeemens,vol liefde vir almal.

Die kinders, kleinkinders en agterkleinkinders gaan haar ook baie mis vir daardie spesiale vleispasteitjies wat sy graag gebak het.

Daar was altyd een of twee in die huis of vir padkos.

Sy was baie lief om te bak en haar grootste stokperdjies was handwerk en lees.

Die kinders het elkeen bedank vir hulle gereelde besoeke, boodskappe, blomme, kuiertjies en telefoonoproepe terwyl sy in die SAVF-huis was.

Dit het vir seker haar dae bietjie korter en aangenamer gemaak en het nie ongesiens verbygegaan nie.

Tannie Elsie word nagelaat deur haar drie seuns, drie skoondogters, ses kleinkinders en vier agterkleinders.

’n Roudiens vir tannie Elsie het Vrydag, 23 Februarie on 2nm in die Hervormde Kerk Moedergemeente Ermelo plaasgevind.

 

Vir meer nuus besoek gerus ons ander webblaaie.

Ridge Times, Standerton Advertiser & Highvelder

”Like” ons op Facebook en volg ons op Twitte

Exit mobile version