Ian Campbell maak ’n verskil in Skaaprus-gemeenskap

Mnr. Campbell het in 2011, met net genoeg geld vir ’n graaf, pik, stuk tou en ’n maatband, met die afmetings begin vir die fondasies van die voorskool, wat hy opgerig het.

Die gemeenskap van Skaaprus het mnr. Ian Campbell, ’n voormalige sendeling, so aangeraak dat hy in die begin van Januarie 2010 reeds by dié inwoners betrokke geraak het.

Skaaprus is ’n afgeleë, informele nedersetting sowat 8km uit Ermelo op die Piet Retief-pad, wat sowat 800 mense huisves.

Die nedersetting bestaan al vir die afgelope 35 jaar en het geen elektrisiteit of lopende water nie.

Die munisipaliteit, wat voorheen water vir dié gemeenskap aangery het, het vir vier jaar geen water verskaf nie, en het onlangs weer begin, hoewel dit ongereeld gebeur.

Lees ook:  Kom deel in Chrissiesmeer se 19de agtereenvolgende boeredag

Inwoners het gedurende dié tyd water van’n nabygeleë dam gekry vir huishoudelike gebruik en in dié dam is wasgoed gewas.

Dié nedersetting was eers bekend as een van die gevaarlikste met ’n gemeenskap vol werklose mense, wat die misdaadsyfer opgestoot het.

Verkragting van jong meisies was ’n groot probleem.

Hy en sy oorlede vrou, Lorna, het in 2009 nadat sy vrou met kanker gediagnoseer is, teruggekeer na Suid-Afrika en hulle op Ermelo gevestig.

Hulle het Skaapsrus deur middel van ’n maatskaplike werker besoek en mnr. Campbell het in 2011, met net genoeg geld vir ’n graaf, pik, stuk tou en ’n maatband, met die afmetings begin vir die fondasies van die voorskool, wat hy opgerig het.

Die gemeente van Ermelo-Oos NG Kerk het bystand verleen om die skool te voltooi en begin 2012 het die skool geopen.

Meeste van die kinders by dié voorskool was kinders van verkragte jong meisies.

“Die kinders het ’n groot agterstand gehad en ons grootste doelwit was om die leerders skoolgereed te kry,” het hy gesê.

“Hulle is aan min blootgestel en het nie basiese stimulering wat vir meeste niks ongewoon is nie.”

Die skool kry nou ’n klein staatsubsidie wat nie genoeg is om alles te behartig nie.

“Die Here voorsien altyd vir sy kinders, ons sien dit daagliks hier.”

Daar is tans 30 kinders tussen die ouderdom twee en vyf jaar, hoewel hulle ’n paar sesjarige leerders het.

Sy uiteindelike doelwit is om ook gr. R- klas aan te bied.

Hy het onlangs een van die onderwysers as hoof aangestel en hulle wil by die regering aansoek doen om nog ’n onderwyser te subsidieer om die huidige personeel te help met die magdom administrasie.

“Die verskil in die gemeenskap vandat ons betrokke geraak het, is duidelik sigbaar.”

“Die misdaadsyfer het ooglopend gedaal en hoewel die mense nog swaarkry, bring elkeen sy deel.”

Vir meer nuus besoek gerus ons ander webblaaie.

Ridge Times, Standerton Advertiser & Highvelder

”Like” ons op Facebook en volg ons op Twitter.

Exit mobile version