’n Dag in die lewe van, mnr. Jaco Johnstone Ermelo se brandweerhoof

“Die dankbaarheid in ’n beseerde se oë wanneer jy hom of haar lewendig uit ’n motorwrak haal, kan geen geld koop nie en die dankbaarheid van mense as jy ’n brand in hul huis vinnig kan blus en die skade beperk, maak jou werk deur en deur die moeite werd.”

Mnr. Jaco Johnstone, Ermelo se brandweerhoof, is ’n besige man en die Hoëvelder moes bybly om sy daaglikse aktiwiteite neer te pen.

Sy werksdag begin vroeg en daar is nie eens tyd vir koffie as hy by die kantoor kom nie, dié drink hy vroeg al by die huis.

Mnr. Johnstone is reeds vir 30 jaar ’n brandweerman.

Sodra hy aan diens kom, kom hy op hoogte van enige voorvalle in sy afwesigheid en hanteer enige iets wat sy aandag nodig het.

Lees ook:  Dries bring Towerfluit na Ermelo

As daar ’n probleem is, word dit dadelik aangespreek.

Elke voertuig en elke toerusting word daagliks geïnspekteer en mnr. Johnstone maak ook in die loop van die oggend seker dat alles reg is.

Dan is dit tyd vir admin, klagtes, navrae en bystand waar nodig.

Vergaderings hou hom besig en hy is gereeld buite die dorp om sy departement te verteenwoordig.

Breyten se brandweerstasie val onder sy bevel en hy reis gereeld tussen Ermelo en Breyten.

Hy moet ook altyd sorg dat hy gereed is vir onbeplande voorvalle.

“’n Mens weet nooit wanneer ’n brand gaan uitbreek of ’n groot ongeluk gaan plaasvind nie en dan moet jy paraat wees.”

Mnr. Johnstone geniet die interaksie met mense en word gereeld op tonele gesien.

Hy huiwer nie om in te spring as hy sien een van sy manne raak moeg en het ’n ruskans nodig nie.

Volgens hom is dit nie altyd net opwindend om ’n brandweerman te wees nie want ontstellende dinge word gesien en dis nie altyd lekker as jy ’n brand nie geblus kan kry nie.

Daar het hy spesfiek verwys na die Indawo-geval van verlede jaar.

Hy het ook gesê dat as jy voel jy verloor die stryd, daar altyd nog ’n gedagte deur jou kop gaan wat sê: “Probeer nog net ’n bietjie” wat maak dat jy aanhou baklei en die krag iewers vandaan kry.

“Die dankbaarheid in ’n beseerde se oë wanneer jy hom of haar lewendig uit ’n motorwrak haal, kan geen geld koop nie en die dankbaarheid van mense as jy ’n brand in hul huis vinnig kan blus en die skade beperk, maak jou werk deur en deur die moeite werd.”

Dit ontstel hom as hy weet hulle het hul alles gegee, maar kon nie ’n situasie wen nie, maar dan lig jy maar net jou kop op, gaan voort en sit agter jou wat gebeur het.

Mnr. Johnstone is trots om te sê dat hulle sedert Junie 2017 nog net een persoon in ’n brand verloor het.

Brandbestryding is nie al wat die brandweer doen nie, maar brandvoorkoming en brandveiligheid vorm ’n groot deel van sy taak.

Hulle doen graag bewusmaking by skole, gemeenskaporganisasies en ook kleuterskole.

As die mense weet hoe om brand te voorkom, is die risiko vir ’n brand om te onstaan soveel kleiner het hy geredeneer.

Hy het ook met trots vertel dat Ermelo se munisipaliteit die enigste in die Gert Sibande distrik is wat ’n brandreaksie-eenheid het en ook die enigste met lugbystand (Working on Fire).

Hulle kry ook baie vals alarms, wat sy bloed laat kook, want brandweerwaens word gestuur na plekke met geen gevaar, terwyl iemand hulle regtig nodig kan kry.

Hy het ook gesê dat sy werk maklik gemaak word deur ’n positiewe span mense wat altyd hul beste gee en 24 uur werk as die situasie dit vereis.

Mnr. Johnstone is baie ingestel op opleiding en is self ’n ewige student wat altyd leer.

Hy het onlangs sy Internasionale Brandstigtings Ondersoekbeamte Sertifisering voltooi wat hom vier jaar geneem het.

Hy studeer nou weer Brandtegnologie deur Twane Universiteit vir Tegnologie.

“Ek sal nooit ophou leer nie.”

Mnr. Johnstone het darem ’n lewe buiten die brandweer.

Hy is in eMalahleni (Witbank) gebore, het in Trichardt laerskool toe gegaan en sy hoërskoolloopbaan by Hoërskool Secunda voltooi.

Na skool het hy brandweerman geword, maar ses maande later het hy oorgeskuif polisie toe en twee jaar later is hy terug brandweer toe.

Hy is getroud met Elize en hulle het drie kinders tussen die ouderdom van 18 en 27 jaar oud.

Tyd met Elize is vir hom kosbaar omdat hy so baie van die huis af weg is en hulle kampeer en hengel graag.

Tuinwerk is ook een van hul gunstelingstokperdjies.

Dit is dan in kort gestel die dag in die lewe van ,n brandweerhoof.

 

Vir meer nuus besoek gerus ons ander webblaaie.

Ridge Times, Standerton Advertiser & Highvelder

”Like” ons op Facebook en volg ons op Twitte

Exit mobile version