Local newsNews

Dié hande is nooit ledig

Sy sê sy vind rustigheid in haar tuin en dit bring vir haar groot vreugde om goed wat sy geplant het te sien groei en blom.

Die ge-klik-klak van breinaalde is ‘n geluid wat Shirley Smith al van vier jaar oud af ken en geniet.

Haar ma het haar op dié jeugdige ou-derdom reeds leer brei en sy het nooit weer opgehou nie.

“Oral waar ek gegaan het en tot vandag toe gaan, gaan my breisak saam,” sê sy.

Oor die jare heen het sy al haar gesin en kleinkinders se truie, bedsokkies, serpe en musse self gebrei, maar die laaste paar jaar spits sy haar toe op babaklere wat sy vir haar selfgemaakte poppe aantrek.

Haar ma se strengheid oor die feit dat daar geen slordige breiwerk geduld sal word nie en dat jy sal lostrek en oorbrei totdat dit netjies en reg is, het van Shirley ‘n perfektionistiese breier gemaak en is daar nie ‘n steek uit plek uit in enige kledingstuk wat sy gebrei het nie.

“Brei is vir my terapeuties en ek ontwerp graag self stelletjies klere. As ek snags nie kan slaap nie, neem ek die breiwerk op en kry so die nag om, aangesien ek nie baie slaap nodig het nie.”

Sy gebruik ook net die beste wol om mee te brei omdat sy glo jou eindproduk iets moet wees waarop jy trots moet wees.

Ná haar man se afsterwe verlede jaar het sy vir ‘n wyle haar inspirasie verloor, maar is nou weer goed op dreef.

Die poppe wat sy so mooi aantrek se onderdele bestel sy van Amerika af.

Daarna sit sy self die poppe aanmekaar, verf hulle en bak hulle in die oond. Nadat die gesig voltooi is en die pop hare het, word die kleertjies wat sy met soveel sorg brei, aangetrek.

Shirley brei nie net nie. Sy is ‘n vlytige kok en ‘n kranige tuinier met ‘n pragtige tuin.

Sy sê sy vind rustigheid in haar tuin en dit bring vir haar groot vreugde om goed wat sy geplant het te sien groei en blom.

Shirley het haarself met die hulp van Youtube leer hekel, al lapverf, kerspitwerk en decoupagé gedoen, maar brei bly haar eerste liefde.

Sy is ook ‘n groot diere­liefhebber en het sewe honde – van ‘n petite Tea Cup Yorkie tot ‘n groot Labrador, sowel as vyf voëls.

Sy het op ‘n tydstip haar eie breigroep op die internet gehad, maar is deesdae net lid van verskeie breigroepe op Facebook waar sy ‘n groot vriendekring het met wie sy graag patrone uitruil.

Dié besige ouma maak nog tyd om haar kleindogter, Chanté, se gholf te ondersteun en was selfs saam met haar op ‘n gholftoer Skotland toe. Selfs daarheen het die breiwerk saamgegaan.

By Shirley sal die duiwel geen ledighed as oorkussing vind nie.

 

Vir meer nuus besoek gerus ons ander webblaaie.

Ridge Times, Standerton Advertiser & Highvelder

”Like” ons op Facebook en volg ons op Twitter.

Related Articles

Back to top button