Local newsNews

Yvonne beveg kanker vir ‘n tweede keer

Sy het geen newe-effekte van die chemoterapie gehad nie, maar die bestraling het haar maag gebrand en rugwerwels laat verbrokkel.

Om te hoor jy het kanker is traumaties genoeg, maar hoe hanteer jy dit om ná jare in remissie die ontstellende nuus vir ‘n tweede keer te hoor?

Yvonne Venter is een van vele wat meer as een keer moes worstel met vrae.

Alles het in 2013 begin toe Yvonne 10 jaar ná ‘n histerektomie ewe skielik weer bloeding gemerk het.

Haar dokter het vermoed dat sy net erge blaasinfeksie het en haar gestuur vir die standaardbloedtoetse.

Yvonne het geweet iets is nie reg nie en wou sommer terwyl sy daar was bloed laat trek om te toets vir kanker.

“Maar alles is nie so eenvoudig nie. Bloedtoetse wys nie sommer in die algemeen dat jy kanker het nie, daar moet spesifieke toetse gedoen word,” sê Yvonne.

Die simptome het steeds nie weggegaan nie en haar dokter het voorgestel dat hy opereer om te sien wat fout is.

Sy het geweier dat daar aan haar gesny word en aangehou om haar medikasie vir blaasinfeksie te gebruik.

Agt maande later is Yvonne met servikale kanker gediagnoseer en bestraling en che­moterapie ontvang.

Sy het geen newe-effekte van die chemoterapie gehad nie, maar die bestraling het haar maag gebrand en rugwerwels laat verbrokkel.

Die behandeling het gehelp en sy was kankervry; die stryd om te bly staan en veg om te lewe was eindelik verby.

Vir Yvonne was dit ‘n wonderlike gevoel en sy het elke dag weer aangepak asof dit die laaste was.

Haar passie vir gholf het sy weer saam met haar gesin hervat en geglo dat sy genees is, gebaseer op ‘n belofte wat sy aan die Here gemaak het.

Drie jaar later, in April vanjaar, het sy pyn ondervind as sy asemhaal. Die dokter het haar met longontsteking gediagnoseer en daarvolgens medikasie voorgeskryf.

‘n Maand later het die simptome steeds vererger en is sy na ‘n spesialis verwys wat haar met sekondêre longkanker gediagnoseer het, met haar limfkliere en lugpyp wat ook aangetas is.

Yvonne, wat nog nie ‘n dag in haar lewe gerook het nie, moes by die dokter hoor dat die kanker ongeneesbaar is. “Ek het haar dadelik gevra wie is sy om my vervaldatum af te stof.” Yvonne glo sy sal gesond word en dat haar lewe in die Here se hande is.
“Nie die dokter s’n nie, en ek glo dat Hy ‘n doel met my het.”

Sy baklei nou maar weer blindelings teen die kanker en het onlangs die halfpadmerk met haar chemo-sessies bereik.

Anders as tevore, eis die behandeling dié keer sy tol met haar hare wat twee weke ná haar eerste chemo-sessie begin uitval het.

Die chemo val haar skelet aan en vir ‘n week ná die behandeling voel sy regtig sleg en is te swak om te loop. Selfs dan sien sy die positiewe raak en vertel skertsend dat sy die week ná chemo lekker bederf word.

Yvonne het ‘n pruik en paar hoede aangeskaf toe haar hare begin uitval het, maar die hitte was vir haar ondraaglik.

Dis toe dat sy besluit het dit is alles twak en nou loop sy met trots met haar kaalkop.

Dié ma van vyf en ouma van vyf, wat altyd tyd maak vir ander en haar ontferm oor die wat swaar kry, mens en dier, sê mens moet nooit tou opgooi nie. Haar raad aan ander is om hul huiswerk te doen en te glo in die Here se wil.

“Afgesien van die Here wat my deur alles dra, het ek ongelooflike ondersteuning van my man en familie en goeie vriende wat my bystaan, selfs kennisse wat bel met ‘n bemoedigende woord of twee.”

Yvonne pak elke dag nou voluit aan en bly heeldag besig met dinge wat haar lewe laat sin maak. So tussen deur haar skilderwerk, seëlversameling, musiek en gholf as sy sterk genoeg voel, bly sy altyd besig met iets en weier dat selfbejammering haar lewe oorheers.

 

Vir meer nuus besoek gerus ons ander webblaaie.

Ridge Times, Standerton Advertiser & Highvelder

”Like” ons op Facebook en volg ons op Twitter.

Related Articles

Back to top button