Rolbalbaan is rioolplaas

Dinsdag is die werk gestaak en alles net so gelaat. Navrae oor die opgeskorte werk het volgens die rolbalklub aan die lig gebring dat die slootgrawer waarmee hulle moet werk, onklaar geraak het.

Frikkie Benecke-park, tuiste van Ermelo Rolbalklub, is reeds twee weke lank toe onder die rioolwater.

Riooldamme en -riviere het op vier verskillende plekke op die perseel ontstaan en riool stroom ook in aangrensende strate en huise.

Drie van die vier bane is tans in gevaar om heeltemal met riool oorstroom te word.

Die probleem het sowat twee weke gelede begin en is dadelik by die munisipaliteit aangemeld.

Verlede week het werkers opgedaag en ‘n groot gat by die grensmuur aan Borderstraat se kant gegrawe.

Dinsdag is die werk gestaak en alles net so gelaat. Navrae oor die opgeskorte werk het volgens die rolbalklub aan die lig gebring dat die slootgrawer waarmee hulle moet werk, onklaar geraak het.

Die munisipaliteit het die klub glo ook meegedeel dat hulle ‘n privaat kontrakteur moet huur om die werk te doen, maar dat die betrokke lid van die uitvoerende bestuur nie beskikbaar was om die nodige dokumente te teken nie.

Die klub het uit moedeloosheid die raads-lid vir Wyk 8, me. Julia Bal, genader om te help. Sy het glo haar bes probeer, maar kon hulle ook nie behulpsaam wees nie.

Lede van die rolbalklub moes noodge-dwonge slote grawe om die riool-besmette water van die bane, ryvlak en parkerings-terrein te probeer weglei .

Twee van die bane se vore is gelyk met die speelvlak met rioolwater gevul, terwyl grond gedurende die munisipaliteit se werk op die punt van die ander baan gestort is.

Die rolbalklub huur die perseel wat aan die munisipaliteit behoort en bestee self duisende rande om die bane in stand te hou.

Verlede jaar is Ermelo se bane vir die eerste keer in ongeveer vyf jaar deur die Mpumalanga Bowling Association (MBA) gegradeer en goedgekeur om provinsiale toernooie aan te bied.

Daar was verlede jaar verskeie toernooie op die bane en, soos me. Gerda Swanepoel, woordvoerder van die rolbalklub, verduidelik, vind die toernooie oor verskeie dae plaas en moet besoekers van verblyf en restaurantgeriewe in die dorp gebruik maak. Dit beteken vir die dorp ‘n ekonomiese hupstoot.

Die Mpumalanga-viere-kampioenskap wat geskeduleer is om binnekort op Ermelo plaas te vind, sal heel moontlik na ‘n ander dorp geskuif moet word.

Me. Swanepoel sê hulle is baie bekommerd dat hulle dalk hul gradering kan verloor as die rioolprobleem nie spoedig opgelos word nie.

Afhangende van die skade kan dit maande, indien nie langer nie, neem om die bane te herstel.

Nog ‘n bron van inkomste is die uitver-huring van die klubhuis vir privaat geleenthede. Een so ‘n geleentheid wat lank vooruit bespreek is, het die naweek plaasgevind.

Tot die klub se verleentheid moes buite-toilette ten duurste gehuur word vir die gaste wat al die gate, rioolpoele en ondraagbare reuk moes verduur.

In reaksie op ‘n navraag aan die munisipaliteit, het die woordvoerder, mnr. Mandla Zwane, gesê die munisipaliteit is bewus van die probleem en prioritiseer die herstel van die klubgebied.

Hulle beplan om die gebarste pyp te herstel, en die gebied wat met riool besmet is, skoon te maak en te ontsmet.

Die munisipaliteit het sy onvoorwaardelike verskoning vir die vertraging in die herstelwerk aangebied aan almal wat deur die probleem geraak word.

Die langtermynplan behels dat advertensies reeds in die media geplaas is vir werkers wat dadelik op aangemelde rioolstortings en waterlekke kan reageer.

Exit mobile version