Skiet in die dorpsgebied is teen die wet

"Dink twee keer voordat jy 'n vuurwapen in 'n munisipale gebied afvuur; dit is 'n strafbare oortreding."

Verlede Woensdag was ‘n hartseerdag vir Annemarie Botha, ‘n inwoner in Smutstaat, wie se hond, Vlooi, deur iemand in die omgewing voor haar doodgeskiet is.

Annemarie het net ná 17:00 tuisgekom en besig was om goed uit haar motor te laai.

Dis toe dat sy ‘n dowwe knal gehoor het en gemerk het dat Vlooi, wat ‘n paar meter van haar af was, snaaks hardloop.

Dit was eers nadat Vlooi om haar voertuig gehardloop het en voor die motorhuis roggelend inmekaargesak het dat Annemarie die skietwond in Vlooi se sy gewaar het.

Annemarie het dadelik haar man se hulp ingeroep, maar Vlooi is op die sementblad voor die motorhuis dood.Hulle het Vlooi nietemin veearts toe geneem en hy het bevestig dat sy dood is van ‘n skietwond en die patroon verwyder.

Annemarie het die patroon polisie-stasie toe geneem as bewysstuk en die saak aangemeld.

Die gesin is baie ontsteld omdat hul honde soos kinders vir hulle is.

Ongelukkig is voorvalle soos dié nie ongewoon nie, hetsy opsetlik of per ongeluk.

Volgens polisiewoordvoerder kapt. Carla Prinsloo is dit onwettig om ‘n vuurwapen in ‘n munisipale gebied af te vuur en oortreders kan aangekla word.

Indien skuldig bevind, kan die aangeklaagde beboet word of selfs gevangenisstraf opgelê word.

Kapt. Prinsloo het ook gesê dat ouers verantwoordelik is vir hul kinders se optrede en beveel aan dat kinders ingelig word oor die nagevolge as hulle gevang word dat hulle in in ‘n munisipale gebied ‘n vuurwapen afvuur.

Mense moet ook verstaan dat hoewel wapens soos windbukse nie gelisensieerd moet wees nie, dit geklassifiseer word as ‘n vuurwapen.

Kapt. Prinsloo het bygevoeg dat alles wat opgaan, weer moet afkom, dus kan ‘n skoot na ‘n duif in die lug mis wees, maar daardie patroon moet weer terug grond toe kom, en kan onskuldige bystanders of diere wond of dood.

“Dink twee keer voordat jy ‘n vuurwapen in ‘n munisipale gebied afvuur; dit is ‘n strafbare oortreding.”

Teen druktyd is geen inligting rakende die ondersoek van die bogenoemde geval deur die Hoëvelder ontvang nie.

Exit mobile version