Dis mos nou ‘n bielie van ‘n eerste bokram

Sy grootste vrees was dat hy dalk die bok mag kwes, maar toe die skoot knal en die bok val het 'n onbeskryflike gevoel oor hom gekom.

Nie elke jagter kan spog met ‘n Rowland Ward-trofee-erkenning agter sy naam nie.

Dié eer het Divan Vermaak (11) van Ermelo met die skiet van sy heel eerste bok te beurt geval.

Divan se blesbok se horings het 19,82 cm gemeet, bykans drie sentimeter langer as die 16,25 cm soos vereis deur Rowland Ward vir trofeestandaarde en net ‘n paar millimeter korter as die Suid-Afrikaanse rekord van 20,56 cm.

Divan vergesel sy pa, Neil, al jare lank jagveld toe, maar het vanjaar vir die eerste keer ‘n geweer afgevuur, toe hulle een middag op sy oom se plaas met ‘n 9 mm teiken geskiet het.

Neil het besef dat Divan ‘n aanvoeling vir skiet het en so is hul eerste jaguitstappie met Divan as die jagter beplan.

Divan het self die bok uitgekies wat hy gaan skiet en hy vertel dat sy senuwees gedaan was.

Sy grootste vrees was dat hy dalk die bok mag kwes, maar toe die skoot knal en die bok val het ‘n onbeskryflike gevoel oor hom gekom.

By nadere inspeksie van die bok het Neil besef dat dié nie ‘n gewone bok was nie. Sy vermoede is bevestig toe hulle die bok na ‘n taksidermis geneem het: sy seun se bok was Rowland Ward-statuur.

Soos dit enige jagter betaam wat sy sout werd is, moes Divan help slag en natuurlik ook rou lewer op die jagveld eet, iets wat hy as minder lekker beskryf.

Divan wag nog vir sy trofee en sertifikaat om aan hom terugbesorg te word en volgens Neil sal die omvang van die eer om ‘n Rowland Ward-trofeedier te skiet eers dan werklik insink.

Divan is nou die trotse eienaar van sy pa se ou .308-geweer en sien uit na hul volgende jaguitstappie met die hoop om ‘n rooibok te skiet.

Die Rowland Ward-boek, “Records of Big Game”, algemeen onder jagters bekend as “The Book”, stel afmetings waaraan diere se horings moet voldoen voordat dit as ‘n trofee beskou kan word. Die voorskrifte geld wêreldwyd.

Exit mobile version