Skoolhoof maak Ligbron trots

Mnr. Dup van Rensburg, skoolhoof van Ligbron Akademie vir Tegnologie, aangewys as die nasionale wenner in die kategorie: Uitnemendheid in onderwysleierskap.

Die Suid-Afrikaanse Onderwysersunie (SAOU) het Vrydagaand by ‘n prestige-geleentheid mnr. Dup van Rensburg, skoolhoof van Ligbron Akademie vir Tegnologie, aangewys as die nasionale wenner in die kategorie: Uitnemendheid in onderwysleierskap.

Mnr. Van Rensburg is sedert 2000 hoof van Ligbron en onder sy leierskap het die skool gedy.

Dit staan enige van die SAOU-ledeskole vry om een of meer van hul onderwysers of bestuurslede te nomineer vir dié jaarlikse toekennings en die bestuur het mnr. Van Rensburg genomineer.

Die genomineerdes word dan eers deur ‘n SAOU-paneel, op grond van die inligting wat ontvang is, geëvalueer om ‘n provinsiale wenner aan te wys.

Die provinsiale wenners kom dan teen mekaar te staan om ‘n nasionale wenner aan te wys wat tydens die SAOU se nasionale kongres aangekondig word.

Mnr. Van Rensburg het gesê dat toekennings van dié aard ‘n uitvloeisel is van ‘n suksesvolle spanpoging waar elke lid van die Liggie-span gesamentlik fokus op die missie en die visie van die skool. Dit kom in kort daarop neer dat elke lid van die span daarop fokus om aan die skoolgemeenskap kwaliteit- en professsionele diens te lewer ten einde ‘n goed-voorbereide leerder met trots die wêreld in te stuur om ligdraers te wees waar hulle ookal gaan.

“Ek dra dié toekenning op aan ons hele Liggie-span wat altyd bereid is om ons skoolgemeenskap te dien. In die besonder ook aan Magdalena (Koekie), my eggenote, wat nou al vir 47 jaar (40 huweliksjare) getrou aan my sy staan en lojale ondersteuning bied.

“Alle eer gaan aan die Here wat mense en prosesse voorberei om take op aarde uit te voer sodat Sy koninkryk reeds op aarde uitgebou word.

“Almal van ons wat opreg die Here as Hoof van die skool of instansie waar ons werksaam is dien, moet nederig afhanklik bly as ons geseën wil word.

“Dit is nie die perd of die swaard wat die stryd wen nie, maar die krag van die Here. As ons egter die eer vir onsself neem, kan ons alles binne ‘n oomblik verloor (Deut.8),” het mnr. Van Rensburg gesê.

Op ‘n vraag wat die pad vorentoe vir Ligbron inhou, het mnr. Van Rensburg geantwoord: ” Daar lê vir die Liggies nog baie werk voor. Ons sal graag die Erries as goeie buurman en ons laerskole wil saamneem om van Ermelo ‘n puik opvoedingsentrum te maak wat die periferie van 200 km plus bedien sodat dit vir ouers onnodig is om verby ons te ry na skole in die stede waar hulle dieselfde dienste vind waarna hulle vir hulle kinders streef.”

 

Vir meer nuus besoek gerus ons ander webblaaie.

Ridge Times, Standerton Advertiser & Highvelder

”Like” ons op Facebook en volg ons op Twitter.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.
Exit mobile version