Local newsNews

n Glimlag helder die dag op

Dit was aansteeklik en het my ook lus gemaak om te glimlag en te sing.

Ek verkyk my gewoonlik aan die ernstige en soms selfs suur gesigte van sommige motorbestuurders wanneer ek soggens werk toe ry.
Ek weet dis koud en mense is waarskynlik nie lus om die knusheid van hul huise te verruil vir die koue op pad werk toe en dalk nog ’n yskoue kantoor wat wag nie.
Vanoggend is ek egter aangenaam verras.
’n Jong meisie in ’n parmantige rooi motortjie trek langs my by die verkeerslig in en sy sing haar hart uit met ’n groot glimlag op haar gesig.
Dit was aansteeklik en het my ook laat glimlag en lus maak om te sing.
Toe sy wegtrek, waai sy vriendelik en daar gaan sy – al singende.
Sy het my gedagtes aan die gang gesit en my laat wonder wat mense sien as ek by hulle verbyry.
Dalk ’n suur onvriendelike gesig omdat ek besig is om op die verkeer te konsentreer of omdat my gedagtes op ’n ander plek is?
Ek het dadelik besluit om met ’n vriendeliker gesig deur die lewe te gaan.
Vriendelikheid en ’n glimlag kos mos niks en kan ’n groot verskil in mense se lewens maak.
Ek was koud en nie lus vir werk nie toe ek by dié verkeerslig gestop het, maar die meisie met haar vriendelike gesig het my dadelik beter laat voel.
Skielik was alles nie meer so sleg nie.
Van vandag af vier ek die lewe met ’n glimlag op my gesig en ek nooi almal om hul “smiley faces” saam met my op te sit.
As jy my sien met ’n kwaai gesig en met ’n frons op my voorkop, herinner my asseblief aan die meisie in haar rooi motortjie.
Sit en veer in jou hoed en GLIMLAG!

Related Articles

Back to top button