Local newsNewsOpinionTerloops

Ermelo inwoners soms “kragteloos”

Agtuur het gekom en gegaan maar die krag het nie, soos in die media gewaarsku is, afgegaan nie.

Sondag was ons slaggereed en voorbereid daarop op heeldag sonder krag te wees.

Saterdagaand reeds is alles reggesit, die braaivleis vir Sondag het gereed gestaan en ons was reg vir die dag sonder elektrsiteit.

Ons is ongelukkig nie so bevoorreg om ‘n groot kragopwekker te hê nie, maar dit is op ons prioriteitslys.

Sondagoggend is dit vroeg uit die vere om gou ‘n ou koffietjie te maak en die fles te vul voor die krag afgaan.

Agtuur het gekom en gegaan maar die krag het nie, soos in die media gewaarsku is, afgegaan nie.

Moenie my verkeerd verstaan nie. Ek kla nie – ek was inderdaad baie bly dat die krag aangebly het.

Vanoggend was dit egter ‘n ander storie.

Toe ek baie vroeg vanoggend wakker word en besef die krag is – sonder enige waarskuwing – af, was ek nog rustig, want daar is nog tyd en die krag sal darem aan wees teen die tyd dat ek moet werk toe gaan.

Ek slaap dus rustig die laaste twee uurtjies knus verder; daar was mos geen waarskuwing dat die krag vir lank gaan af wees nie.

Opstaantyd is daar geen krag nie.

Nou wat nou?

Die water is darem nog warm genoeg om te stort en ek kan my hare was, maar hoe kry ek dit droog?

Die huis is donker en die kerse maak dit nie regtig maklik om in die kas te sien wat om aan te trek nie.

Ek hoop toe maar my klere pas bymekaar en trek in die halfskemer aan.

Nou wil ek vir ons munisipalteit vra: Is dit ons voorland vir die winter wat voorlê?

My oproepe na die inbelsentrum om te probeer uitvind wat die probleem was, is nie eers beantwoord nie.

Moet ons nou maar terwyl daar krag is, dinge doen soos hare was en ander goed wat elektrisiteit benodig en hoop as ons in die oggend wakker word, sal ons die bedlampies kan aanskakel of moet ons maar net voortploeter in die donker?

Intussen sal ons maar getrou soos altyd ons diensterekeninge betaal en hoop vir die beste.

 

Vir meer nuus besoek gerus ons ander webblaaie.

Ridge Times, Standerton Advertiser & Highvelder

”Like” ons op Facebook en volg ons op Twitter.

Related Articles

Back to top button