Local newsNews

Jerry het skrywersbloed in sy are

Gedurende sy tyd as joernalis het hy die grootste waardering en bewondering ontwikkel vir nooddienswerkers.

Die groot 65 het nog ‘n briljante joernalis en ons se eie jintelman, Gerald Young, se loopbaan geëis.

Verlede week het die Hoëvelder afskeid geneem van Gerald wat die laaste agt jaar as senior joernalis by die koerant werksaam was.

Deur die jare het Gerald, of Jerry soos die meeste mense hom ken, hegte bande in die gemeenskap gesmee, maar dit is sy integriteit en fyn sin vir humor wat almal altyd sal bybly.

In sy weeklikse rubriek Terloops /By the way het hy die lesers in sy eie wêreld ingelaat met die vermoë om enige onderwerp met die nodige meriete aan te raak.

Gerald het 40 gelede as jong briltegnikus na Ermelo verhuis en is een van Ermelo Marathonklub se stigterslede.

Hy het die mediakorrespondensie van die klub behartig en toe reeds ‘n goeie verhouding met die Hoëvelder opgebou.

Gerald vertel dat hy nog altyd lief was vir stories, maar dat die skryfgogga werklik eers gebyt het toe Radio RSG in samewerking met Vonk-tydskrif destyds luisteraars genooi het om stories in te stuur vir hul laataand program Wolhaarstories.

Sy eerste storie getiteld Skorrie Morrie is uitgesaai, en dit het die redakteur van Vonk se aandag getrek wat Jerry in 2000 genader het om maandeliks vir die tydskrif te skryf. Gedurende dié tyd het hy ook as vryskutjoernalis vir die Hoëvelder geskryf.

In 2007 het sy loopbaan as koerantman begin. Ná twee jaar waartydens hy by ‘n ander plaaslike koerant en by ‘n plaaslike toerismekoerant gewerk het, het hy in 2009 by die Hoëvelder-span aangesluit.

Gedurende dié tyd is hy telkemale deur sy eweknieë in die media vereer vir sy uitsonderlike skryfwerk en fotografie en het jaarliks met erebewyse by toekenningsgeleenthede vir gemeenskapskoerante weggestap.

Gerald vertel dat een van die besliste hoogtepunte was toe die Vonk-tydskrif hom in 2005 vir ‘n ATKV-Veertjie benoem het.

“Ek het nou wel nie gewen nie, maar om in dié kategorie saam met die land se grootste en bekendste skrywers benoem te word, was ‘n groot eer.”

Gerald vertel dat hy lief geword het vir die dorp se mense en al sy dinge.

Gedurende sy tyd as joernalis het hy die grootste waardering en bewondering ontwikkel vir nooddienswerkers. Hetsy dit ‘n ambulans-, polisie- of brandweerman is, die mense wat eerste op die toneel van ‘n ongeluk of ramp is, is die wat met deernis in moeilike en selfs tragiese omstandighede werk.

Gerald gaan hom nou toespits op sy ander groot liefde, fotografie, en hoop om homself as vryskutjoernalis te bemark.

Hy hoop ook om sy half-voltooide boek klaar te skryf en beoog om binnekort sy Wolhaarstories-bundel wat jare reeds voltooi is, te publiseer.

“Dit was vir my lekker om oor ons mense te skryf, maar glo my as ek sê ek sien uit daarna om nooit weer oor riool te skryf of ‘n foto daarvan te neem nie.”

 

Vir meer nuus besoek gerus ons ander webblaaie.

Ridge Times, Standerton Advertiser & Highvelder

”Like” ons op Facebook en volg ons op Twitter.

Related Articles

Back to top button