Local newsNews

Vierkantig is nou die nuwe rond

Ermelo spog met drie van dié pannekoektowenaars en die Hoëvelder het tydens Saterdag se plaaslike skolederby gaan inloer om die bakkery van naderby te beloer.

Wat is meer eg-Suid-Afrikaans as pannekoek by die kerkbasaar, feeste en skoolbyeenkomste.

Herinneringe van die tannies wat in ‘n lang ry agter hul gasstofies staan en een pannekoek ná die ander uit hul spesiale panne toor en die omies wat ernstig meeding om die titel as beste pannekoek-gooier is nog vars in baie se geheue.

Deesdae vergaap mense hulself aan ‘n nuwe gedoente wat vierkantige pannekoeke bak en op ‘n goeie dag kan hy tot 530 pannekoeke per uur lewer.

Wel die kontrêpsie is eintlik nie so nuut nie en die storie lui dat ene Pieter du Preez, ‘n ingenieur van Johannesburg, in beheer was van die pannekoekstalletjie tydens die halfeeu-feesvieringe van die Voortrekkers by die Voortrekkermonument.

Hy het daar en dan besluit om ‘n apparaat te bou wat pannekoek vir die massas kan bak. Die gedoente het so goed gewerk dat hy sy konsep gepatenteer het.

Ermelo spog met drie van dié pannekoektowenaars en die Hoëvelder het tydens Saterdag se plaaslike skolederby gaan inloer om die bakkery van naderby te beloer.

‘n Driemanspan, eienaars Dale en Tina Groenewald met Fanie Mpanza aan die stuur, was druk besig om die pannekoekvoorraad op te bou.

Tina is in beheer van die beslag en sorg dat die deeg egalig verprei is as dit oor die eerste drom vloei, Fanie bestuur die hele kontrêpsie en sorg vir die regte temperatuur, spoed en dat alles in lyn bly terwyl Dale aan die ander kant gereed sit met ‘n skêr om die lang pannekoek in blokke te sny.

Tina vertel dat hulle ‘n paar “verbeteringe” aan die apparate aangebring het om aan hul vereistes te voldoen en dat dit ‘n paar probeerslae gekos het om die resep vir die beslag te vervolmaak.

Ten spyte van die pannekoek se vorm bly dit steeds die heerlike, warm, opgerolde, kaneelsuiker-bestrooide deeglekkerny van ouds en, ja, “it’s hip2B²”.

 

Vir meer nuus besoek gerus ons ander webblaaie.

Ridge Times, Standerton Advertiser & Highvelder

”Like” ons op Facebook en volg ons op Twitter.

Related Articles

Back to top button