Secunda-vrou verloor 65kg en sê om vet te wees, is nie ’n lewensvonnis nie

Die geweldige hoeveelheid los vel waarmee sy daagliks sukkel, hou haar egter terug om haar lewe ten volle te geniet.

Me. Tertia van der Westhuizen glo nie in pille, inspuitings en ander dieetfoefies nie en het meer as 65kg op die harde manier afgeskud.

Haar wenresep is haar kop, die skaal, ’n goeie stel tekkies en ’n bietjie Futurelife pap.

Me. Van der Westhuizen se gewigprobleem het begin net nadat sy getroud is.

“Ek het net geëet en gesit en my gewig het gou tot 142kg toegeneem.

Sy was op kroniese medikasie vir diabetes 2, cholesterol en bloedruk en moes ook slaappille gebruik en pynpille vir kroniese pyn in haar bene.

“Elke nuwe voorskrif was ’n bietjie langer en ek het eendag met my medisyne in ’n drasak by die apteek uitgeloop.

“Ek het besluit dat ek my leefstyl moes verander.”

Me. Van der Westhuizen het soggens om 3vm begin stap om te kyk of dit die pyn in haar bene sou verlig.

Die los vel waarmee me. Tertia van der Westhuizen sukkel nadat sy 65kg verloor het deur daagliks vier tot agt ure in die gimnasium te bestee.

Dit het verligting gebring en sy het boonop gewig begin verloor.

Sy het drie maande later die moed bymekaar geskraap en by die Sasol Fitness Centre ingeskryf

Me. Van der Westhuizen bestee tussen vier en agt ure per dag in die gimnasium en stap steeds

soggens en draf in die middae saam met ’n vriendin.

“Om te oefen, het vir my soos ’n verslawing geword.”

Haar raad aan ander is dat dit nooit te laat is om gewig te verloor nie.

“Ek is 57 jaar oud en ek wens ek het vroeër begin.”

Hoewel me. Van der Westhuizen byna haar doelgewig bereik het, hou haar “vetwees-mentaliteit” en die geweldige hoeveelheid los vel waarmee sy daagliks sukkel, haar terug om haar lewe ten volle te geniet.

Sy het alles probeer om die oortollige vel te laat verwyder, maar haar mediese fonds het die chirurgie afgekeur en sy kan nie self die operasie bekostig nie.

Die oortollige vel sit meestal om haar middel en veroorsaak ontsteking en sere.

Lees die volledige berig in die Ridge Times.

Lees ook: 5-minute exercises you can do daily

Exit mobile version