Bekende kunstenaar sterf

Benewens haar skilderkuns, het sy ook kinderverhale geskryf en 'n boek met verhale soos "Die Rooi Sambreeltjie" en ander laat publiseer.

‘n Oud-Ermeloër en bekende kunstenaar, Lily Krugel, is op 24 April op die ouderdom van 85 in Pretoria oorlede.

Hoewel sy etlike jare gelede ná die afsterwe van haar man, Thunis, in 1991 na Pretoria verhuis het, sal Lily onthou word vir die fotografiese ateljee en geweersmidswinkel wat die egpaar destyds op Ermelo bedryf het.

Lily was ‘n vrou van vele talente en het nie geglo aan stilsit nie.

Benewens haar skilderkuns, het sy ook kinderverhale geskryf en ‘n boek met verhale soos “Die Rooi Sambreeltjie” en ander laat publiseer.

Vier CD’s met haar “Gogga”-reeks is ook vrygestel. Van haar gedigte is ook in digbundels opgeneem.

Sy was ook ‘n fotograaf en het selfs as joernalis artikels vir ‘n nasionale koerant geskryf.

Sy sal ook onthou word vir die geesdriftige wyse waarop sy op 50-jarige ouderdom die draf-gogga aangepak het en tot op ‘n hoë ouderdom nog aan padwedlope van 5 km en 10 km deelgeneem het.

Lily het ‘n 100 km-staptog in ses dae deur die Baviaanskloof voltooi en op 70-jarige ouderdom 300 km deur Namakwaland gestap.

Sy het ook ‘n 100 km-staptog van Pretoria na Potchefstroom suksesvol aangepak om geld vir kinderwelsyn in te samel. Vier 42 km-marathons en verskeie 21 km-wedlope is ook op haar kerfstok.

“My ma was ‘n mens-mens. Sy was lief vir almal en het alles wat sy gedoen het met geesdrif en ywer aangapak,” het haar seun, Pieter, gesê.

Sy het die laaste jare in ‘n aftree-oord in Montana, Pretoria gewoon en was tot haar afsterwe steeds aktief.

Sy laat ‘n seun en ‘n dogter asook vier kleinkinders agter.

‘n Gedenkdiens vir Lily is Vrydag, 28 April in die aftree-oord gehou.

Exit mobile version