Local newsNews

Vaardige, skeppende hande op 92

Die afwesigheid van groot en duur houtwerkmasjiene is opvallend maar dit is hier waar sy vindingryke skeppingsvermoëns tot hulle reg kom.

Om op 92-jarige ouderdom nog vaardige en skeppende hande te hê, is volgens oom Hendrik van der Walt van Ermelo “niks besonders nie”.

Sy werksplekkie in sy motorhuis vertel egter ‘n ander storie.

Kleurvolle, stewige houtspeelgoed soos treintjies, vragmotors en vliegtuie wat enige seuntjie se hart bly sal maak, staan reg om verkoop te word terwyl ander nog in die vervaardigingsproses is. Alles deur oom Hendrik se handige hande gemaak.

Die afwesigheid van groot en duur houtwerkmasjiene is opvallend. Die werkswinkeltjie lyk inderdaad yl en nie baie goed toegerus nie, maar dit is hier waar sy vindingryke skeppingsvermoëns tot hulle reg kom.

Die speelgoed, verduidelik hy, word van stukkies afvalhout en plankies gemaak.
Hy maak gebruik van patrone wat hy self op karton geteken en uitgesny het en leë blikkies en ander “goedjies” word vindingryk gebruik.

Die saagwerk word óf met ‘n handsaag óf ‘n tafelsaag, wat hy ook self geprakseer het, gesny en die wiele vir die karretjies en treintjies word een vir een met ‘n staanboor en gaatjiesaag uitgesny.

Die afskuur van die stukke word dan met ‘n bankslyper of bloot net met die hand gedoen .

“Die skuurwerk word buite gedoen. Ek wil nie raas kry as ek my vrou se motor vol stof maak nie,” sê hy met ‘n glimlag.

Alles word netjies aanmekaargesit en vasgemaak met sterk houtlym en skroewe en dan kleurvol geverf.

Om te wys hoe sterk die speelgoed is, laat oom Hendrik my op ‘n vragmotortjie en sleepwa staan.

“Dit het alles so drie jaar gelede begin,” vertel hy. “Mens kan nie net agteroor gaan sit en niks doen nie. Jy moet aan die gang bly solank as wat jy kan.”

Oom Hendrik word ondersteun deur sy vrou, Bettie, met wie hy reeds 65 jaar getroud is.

“Sy is my bemarker,” spot hy. “Ek maak en sy bemark.”

 

For free breaking and community news, visit our websites:

Ridge TimesStanderton Advertiser & Highvelder

Like our Facebook page and follow us on Twitter.

Related Articles

Back to top button