‘n Dag in die lewe van Amanda

"Dit is die bystand en empatie waarmee die familie behandel word, wat tel."

Die dood is iets waaraan ons nie wil dink nie en ook nie iets waaroor ons gemaklik praat nie.

Tog is dit ‘n werklikheid en iemand moet daar vir ons wees om die al die reëlings rondom die afsterwe en begrafnis van ‘n geliefde te tref en af te handel.

Die Hoëvelder het gaan kers opsteek by Amanda de Bruyn, ‘n begrafnisonder-nemer van Ermelo, om meer te wete te kom oor die verloop van ‘n tipiese dag in dié beroep.

Die idee van ‘n begrafnisondernemer as ‘n lang skraal man in swart geklee, wat uitdrukkingloos sag en stemmig praat, word heeltemaal weerlê as mens by haar kantoor instap.

Ek word begroet deur ‘n vriendelike, glimlaggende en netjies geklede vrou wat gemaklik en passievol oor haar beroep praat.

“Ek is reeds 30 jaar in die bedryf en ek sal nie ‘n ander werk wil doen nie. Ek het reeds van skooldae ‘n aanvoeling vir die roeping as ondernemer gekweek.

“My pa was in die bedryf en ek het as skoolmeisie in sy kantoor gesit en kyk wat hy doen.

Dit gaan nie soseer oor die versorging van die afgestorwene nie, maar wel oor die familie en naasbestaandes wat agterbly.

Ja, die oorledene moet met waardigheid versorg word, maar dit is die bystand en empatie waarmee die familie behandel word, wat tel.”

‘n Tipiese dag begin met administrasiewerk wat dringend maar tog sorgvuldig afgehandel moet word, veral as daar deur die nag ‘n sterfgeval was en die oorskot gehaal moes word.

“Ek en my helper gaan haal die oorskot self, ongeag waar in ons gebied dit is, reën of sonskyn, dag of nag.

Dit moet so gou as moontlik gedoen word en reeds hier begin die paadjie wat ek met die naasbestaandes stap. Ons is altyd netjies geklee want mens moet respek toon en ook wys dat jy hulle situasie verstaan.

Hulle is uiteraard geskok, hartseer en getraumatiseerd en hulle moet met simpatie behandel word. Hulle moet ook gerusgestel word dat hulle stap vir stap deur die proses geneem sal word.”

Amanda verduidelik dat die dokumentasie ook hier begin.

Identiteitsdokumente, geboorte-sertifkate, en alle ander noodsaaklike dokumente moet bymekaar gemaak word.
Doodsertifikate moet verkry word, reëlings moet getref word met lykshuise, kerke, die Departement Binnelandse Sake, munisipaliteite vir die grawe van die graf, krematoriums, verkeersowerhede en vele ander instellings en mense.

Tussendeur moet die oorskot van die oorledene versorg word en die familie moet bygestaan word met die begrafinsreëlings en die keuse van die kis.

“Ek wil mense aanraai om vooraf met mekaar te praat sodat daar ‘n groot mate van sekerheid kan wees oor wat hulle voorkeure sou wees wanneer ‘n geliefde tot sterwe kom. Dit maak dinge soveel makliker vir die naasbestaandes.”

Sy besoek ook self die graf vooraf om seker te maak dat dit reg genommer is en aan al die spesifikasies voldoen.

Kantooradministrasie moet ook op datum gehou word en daar moet ook boek gehou word van voertuie se ritafstande en brandstofverbruik. Bemarking moet ook gedoen word, polisse moet verkoop word en opknappingskursusse moet van tyd tot tyd bygewoon word.

In haar vrye tyd is Amanda lief om te lees en sy hou ook van die buitelug en om te kamp wanneer sy tyd kry.Sy probeer dan om haar af te sny van die werk en tyd vir haarself te maak.

“Mens moet jou emosioneel afsny van die werk en wat dit als behels, maar daar is tog gevalle waar jy emosioneel betrokke raak, veral wanneer jy die mense geken het. Soos die tyd toe my pa oorlede is. Dit was vir my baie swaar,” het sy gesê.

“Dit is vir my bevredigend om te weet ek kan dié kort paadjie saam met die naasbestaandes stap en hulle bystaan in hul tyd van smart en onsekerheid en te verseker dat die afgestorwene met waardigheid die ewige rus kan ingaan,” het dié vriendelike en vlytige vrou gesê.

Exit mobile version