Springbokskut op 83 steeds in die kol

Hy vertel ook dat hy op sy ouderdom bevoorreg is om nog perfekte sig te hê en steeds doodstil aan te lê sonder om te bewe.

Springbokskut Juba Grobler (83) van Ermelo was een van vyf lede van die nasionale veteraneskietspan wat Suid-Afrika onlangs in die nasionale Bisley in Bloemfontein verteenwoordig het.

In 1952, terwyl hy in die kommando was, het hy vir die eerste keer begin skiet.

Ses jaar later het hy aan sy eerste nasionale Bisley in Bloemfontein deelgeneem en in 1960 is hy as die jongste Springbok gekies om Suid-Afrika in Engeland te verteenwoordig.

Oorweldig deur die groot eer wat hom te beurt geval het en met ietwat van ‘n minderwaardigheidsgevoel tussen ervare Springbokke, het hy maar skaam op die trein van Johannesburg na Kaapstad geklim vir die 14-dag vaart na Engeland.

Hy vertel dat almal hul groen baadjies gedurende die reis gedra het en dat syne heel onder in sy koffer gepak was.

Maar dit was op die eerste oefendag in Engeland dat hy en sy spanmaats besef het dat hy geen rede het om vir enige skut terug te staan nie.

Daardie jaar het 2 000 skuts aan die toernooi deelgeneem met Juba as beste SA skut van die toernooi.

Verlede week was byna ‘n herhaling van sy eerste skietkompetisie as Springbok.

Dié keer was hy bekommerd dat hy die span in die steek gaan laat, omdat hy nie meer ‘n jong man is nie.

Maar met 191/200 in die 300-900 m het hy weer die beste telling in die SA span geskiet.

In 1961 het Juba die Staatspresidents-beker gewen en is ook later dié jaar deur die minister van sport vereer as sportman (skiet)-van die jaar.

Die .303-geweer wat hy as prys in die C-klasafdeling van die Staatspresidentbeker gewen het, is tot vandag nog sy gunsteling-geweer wat steeds in sy geweerkluis pronk.

Sedertdien het hy aan 58 nasionale Bisleys deelgeneem en het agt keer internasionaal geskiet.
Soos hy vertel, het hy meer as 365 000 rondes 308-kaliber op die skietbaan geskiet.

Juba vertel dat sukses nie vanself kom nie en dat jy baie moet oefen.

Selfs nou nog, op 83-jarige ouderdom, oefen hy elke dag met sy windbuks in sy huis.

Hy sê dit help om ‘n perfekte skoot te skiet.

Op die skietbaan is dit ‘n perd van ‘n ander kleur met afstand, wind en lugspieëling wat elke skoot bëinvloed.

Sodra enige van bogenoemde verander, moet die visier teruggestel word na die middellyn waarvan die skoot van vooraf uitgewerk word.

Net soos die middellyn op sy geweer se visier is Juba se godsdiens, familie en waardes die middellyn in sy lewe.

Juba vertel dat ‘n Engelse skut hom eendag vertel het dat die middellyn ook van toepassing op jou lewe is.

Sedertdien is dit hoe hy leef. As iets fout gaan in die lewe of dinge nie uitwerk soos dit moet nie, gaan hy terug na sy middellyn, maak ‘n paar lewensverstellings en probeer dan daardie perfekte skoot skiet.

Juba glo die toekoms lê in die beeld wat elkeen van ons uitstraal, en sal altyd sy kennis van skiet met ‘n jong skut deel.

Hy vertel ook dat hy op sy ouderdom bevoorreg is om nog perfekte sig te hê en steeds doodstil aan te lê sonder om te bewe, maar hy besef dat hy nie meer baie skietjare oor het nie met die kompetisie wat al strawwer word.

Vir hom is dit nie meer belangrik om die beste te wees nie; hy wil net graag vir so lank moontlik teen die bestes meeding.

Exit mobile version