Local newsNews

Kyle sterk goed tuis aan

Sedert hul tuiskoms die eerste week in Maart, het die gesin dadelik begin met Kyle se rehabilitasieproses.

Kyle Verfaillie is tuis ná ‘n lewens-veranderende operasie.
Dié 10-jarige seun het aan die einde van verlede jaar skielik siek geword en is kort daarna met Rasmussen se sindroom diagnoseer. Op Valentynsdag het dokters in ‘n Kaapstadse hospitaal sy linkerbreinlob tydens ‘n 12 uur lange operasie verwyder. (Sien berig in die Hoëvelder 17 Februarie 2017).
Die Hoëvelder het verlede week, ‘n maand ná sy operasie, by die gesin gaan inloer om uit te vind hoe dit gaan.
Met die intrapslag het alles so normaal voorgekom, amper soos ‘n poskaartprentjie, met Marc en Juanita, Kyle se ouers, wat vriendelik hul gas innnooi, ousus Chloë wat sit en huiswerk doen en Kyle wat smul aan ‘n bak vol spanspek terwyl hy uitgestrek op die bank sit en televisie kyk.
Dit was eers toe Kyle met moeite probeer draai en op sy eie manier met ‘n skewe glimlag en blink ogies woordeloos groet, dat die werklikheid ingesink het.
Die gesin se positiewe gesindheid is onbeskryfbaar en pa Marc het sommer voor iemand kon gaan sit, met trots vir Kyle gevra om te wys hoe hy al sy regterbeen kan beweeg.
Dit was wel ‘n klein beweging, maar dit dui op reuse-vordering, wat so kort ná die operasie, selfs die dokters verbaas.
Ná die operasie het Kyle alle motoriese funksies aan die regterkant van sy lyf verloor en sy vermoë om normaal te funksioneer, te praat en te sien, is aangetas.
Sedert hul tuiskoms die eerste week in Maart, het die gesin dadelik begin met Kyle se rehabilitasieproses.
Die eerste paar maande is van kardinale belang omdat pasiënte gedurende dié vensterperiode die meeste leer en inneem.
Marc het besluit om Kyle dadelik in die swembad te kry vir terapie om sy ledemate en gewrigte te versterk.
Hy kan al in die water loop, en swem die swembad se lengte met sy een arm en been deur, met die regterbeen wat met tye ook ‘n halwe skop gee om hom vorentoe te help.
Kyle raak gefrusteerd as hy nie self iets kan doen nie en weier nou om gevoer te word.
Hy eet self en, volgens Juanita, soos ‘n “monster”.
As Kyle eers in sy rolstoel sit, het hy ‘n bietjie mobiele vryheid en dit is verbasend om te sien hoe hy reeds aangepas het om dié tikkie selfstandigheid te geniet.
Maar alles is nie net wel nie.
Hy moet nou van voor af leer lees, skryf en praat, en Marc vertel dat dit maar sukkel gaan om met sy linkerhand te probeer skryf.
Hy sal moet leer om normale take wat ‘n seun van sy ouderdom as vanselfsprekend aanvaar, te verrig: self aantrek en badkamer toe gaan tot die vermoë om self vir hom ‘n toebroodjie te maak.
‘n Groep plaaslike terapeute staan die gesin by en Kyle sal die volgende paar maande saamwerk met ‘n fisio-, arbeids-, oudio-, spraak-, lees-, kinder-en-spel-, perdry- en hidroterapeut sowel as ‘n biokinetikus.
Marc en Juanita kan nie uitgepraat raak nie oor die oorweldigende reaksie en bystand van die gemeenskap.
Juanita het begin om ‘n paar name te noem, maar het gou besef dat daar net eenvoudig te veel is en dat sy niemand kan uitsonder nie.
Juanita het die eerste keer dat Kyle siek geword het, die internet vrugteloos deursoek vir ‘n toestand met dieselfde simptome as dié van Kyle.
In ‘n poging om terug te gee, ander te help en mense bewus te maak van dié siekte, het hulle die facebookblad “Support for Kyle Verfaillie” begin in die hoop om ander gesinne met dieselfde probleem, by te staan.
Die ouers van drie kinders wat dieselfde simptome as Kyle toon, het reeds met hulle in verbinding getree.
“Dis ‘awesome’, nou kan ons hulle help,” sê Juanita.
Om op hoogte van Kyle se vordering te bly en die video te sien waar Kyle swem en ander mylpale bereik, gaan “like” gerus die Support for Kyle Verfaillie se facebookblad.

Related Articles

Back to top button