Boere besorgd oor Gupta-myn

Van die besware wat die boere en plaaswerkers geopper het, sluit in dat boorgate in die omgewing besoedel gaan word en selfs kan opdroog.

‘n Groep van 62 boere en plaaswerkers van Ermelo het die Departement van Minerale Hulpbronne die stryd aangesê deur middel van ‘n versoekskrif om nie ‘n mynlisensie aan die mynmaatskappy Centaur de Roodepoort toe te ken alvorens die volgehoue beskikbaarheid van water in boere se boorgate getoets is nie.

‘n Versoekskrif in dié verband is ook aan die Department van Water en Sanitasie oorhandig.

Dit kom nadat die mynmaatskappy voortgaan met planne om ‘n steenkoolmyn te vestig op die plaas De Roodepoort wat Wes van Ermelo in die opvangsgebied van die Drinkwater- en Klein Drinkwaterspruite geleë is.

Dié spruite vloei verder suid in die Vaalrivier in. Sewe vleilande en drie rooidata-spesies is ook in die omgewing geïdentifiseer.

Howel mynbouaktiwitete op dié tydstip binne die vereiste afstand van die vleilande sal plaasvind, is kommer uitgespreek dat die beskikbaarheid van water nie gewaarborg kan word sou sinkgate in die gebied voorkom nie.

Dit het aan lig gekom dat Centaur de Roodepoort bande het met die Gupta-familie wat aandele in die maatskappy besit. Aakash Garg Jahajgarhia, ‘n skoonseun van die Guptas, word gelys as een van die direkteure.

Prospekteerregte vir 3 259 vrugbare landbougrond is deur Centaur bekom.

Die boere en plaaswerkers wil keer dat ‘n waterlisensie aan Centaur uitgereik word voor die toetsing van die water, want volgens mnr. Jacob Dürr, een van die boere, sal die mynlisensie kort op die hakke van die toekenning van die waterlisensie volg.

Die Department van Water en Sanitasie sou reeds Dinsdag 7 Maart ‘n besluit oor die toekenning van ‘n waterlisensie geneem het indien daar nie beswaar teen die uitreiking daarvan aangeteken sou word nie.

Die besluit is egter uitgestel hangende ‘n ondersoek en ontleding van die besware.

Van die besware wat die boere en plaaswerkers teen die beoogde myn geopper het, sluit in dat boorgate in die omgewing besoedel gaan word en selfs opdroog.

Mynbouaktiwiteite sou ook, strydig met die wet, te naby aan twee hoofspoorlyne plaasvind gevind het.
Die beoogde aktiwiteit is intussen verskuif en sal nou binne die vereiste afstand van die spoorlyne plaasvind.

Die groep voer ook aan dat privaat boorgate nie getoets is soos in die verslag aangedui is nie en nie alle boorgate in die gebied op die kaart aangedui word nie.

Na bewering is nie alle plaaseienaars in die gebied besoek nie en geen studies is gedoen om te bepaal of die beskikbare water genoeg sal wees om in alle verbruikers se behoeftes te voorsien nie.

Daar word verder aangevoer dat geen studies gedoen is om te bepaal wat die uitwerking van mynbouaktiwiteite op plaasopstalle, werkershuise en ander geboue in die omgewing sal wees nie.

Die groep is ook van mening dat die verlies van produktiewe landbougrond nie slegs tot die bogrondse myngebied beperk sal word nie, maar dat honderde hektaar landbougrond nutteloos en onbruikbaar sal word.

Exit mobile version