Liefde uit die ertjieland

Tannie Bettie (83) en oom Hendrik van der Walt (92) het onlangs hul 65ste huweliksherdenking gevier.

Tannie Bettie (83) en oom Hendrik van der Walt (92) het onlangs hul 65ste huweliksherdenking gevier.

Die egpaar het nege jaar gelede van hul plaas tussen Breyten en Hendrina na Ermelo verhuis.

Tannie Bettie vertel skertsend van die dae toe oom Hendrik by haar kom kuier het en sy nie regtig geweet het wat om met die man te doen nie, dus het sy maar net aanhou tee maak en die stoof stook.

Maar dit was nie lank daarna nie dat oom Hendrik haar die “kys” in die ertjieland gevra het.

Twee jaar later is hulle getroud en drie kinders is uit die huwelik gebore. Vandag spog hulle met ses klein- en vyf agterkleinkinders.

Tannie Bettie vertel dat hulle vandag nog steeds baie lief is vir mekaar en hou selfs nog hande vas tydens Sondae se eredienste.

Verdraagsaamheid is baie belangrik in die huwelik, vertel tannie Bettie, en sê dat jy na jou maat moet luister en konflik ten alle tye vermy.

Oom Hendrik sê dat die Here vir hulle so goed is en die twee is dit eens dat hul huwelik nie sonder Sy groot genade en leiding so geseënd sou wees nie.

Tannie Bettie hou haar bedags in haar tuin besig en oom Hendrik doen graag houtwerk.

Hy kan nie ledig sit nie en hou niks van lees nie. Volgens hom is die Bybel die enigste boek wat hy nog gelees het.

Hy bestee ure in sy motorhuis waar hy houtspeelgoed maak.

Vir oom Hendrik is daar niks beter nie as om ‘n kind se gesig te sien ophelder as hy vir hulle een van sy handgemaakte speelgoed gee.

Die egpaar se gesondheid is nog goed en hulle hoop as dit die Here se wil is, hulle nog baie jare vir mekaar gespaar sal bly.

 

For free daily local news in the south, visit our sister newspapers Ridge Times and Standerton Advertiser.

For more news and interesting articles, like us on Facebook, follow us on Twitter or Instagram

Exit mobile version