Local newsNews

Vol lewenslus op 90 met ’n boeiende lewensverhaal

Haar ontberings as Poolse kind en jong vrou tydens die Tweede Wêreldoorlog en haar baie interessante lewensverhaal is harstseer en boeiend.

Familie en vriende het Saterdag van heinde en ver gekom om fees te vier saam met Marie van der Merwe, ‘n legende van Ermelo in eie reg, wat op 8 Desember haar 90ste verjaardag gevier het.

Marie, oftewel “Tannie Van” sal deur baie Ermeloërs onthou word as die vriendelike en hulpvaardige hulp-verpleegster met die “Afri-Poolse” aksent wat vroëer jare in die kraamafdeling van die Ermelo Provinsiale Hospitaal werksaam was.

Ten spyte van haar 90 somers is Marie nog aktief en gesond en doen steeds haar eie huiswerk.

“Ek is baie dankbaar teenoor die Here wat my my hele lewe lank gespaar het en geseën het met goeie gesondheid. Ja, daar is is sekere takies wat ek nie meer kan verrig nie want ‘n mens se kragte neem tog ‘n bietjie af. Die Here is baie goed vir my. Ek het ook ‘n huishulp wat eenkeer per week inkom om my te help,” het sy gesê.

Sy loop slegs met behulp van ‘n kierie vir veiligheid en kan nog helder dink en gesels graag.

” Hulle sê ‘n mens se verstand word traag met die ouderdom saam maar ek hoef nie te dink nie. Die Here dink vir my want Hy lei my,” het sy nederig gesê.

Marie se lewenspad was in haar jonger jare alles behalwe maanskyn en rose.

Sy het inteendeel ‘n paadjie gestap wat vir baie mense soos ‘n verhaal in ‘n storieboek sal klink. Haar ontberings as Poolse kind en jong vrou tydens die Tweede Wêreldoorlog en haar baie interessante lewensverhaal is harstseer en boeiend.

Met die uitbreek van die Tweede Wereldoorlog in 1939, toe sy skaars 13 jaar oud was, is Marie Jatkouski, haar ouers, twee broers en ‘n suster deur Russiese soldate gedwing om uit hulle huis in Belarus, Pole, pad te gee.

Sy en haar gesin is saam met duisende ander aan ‘n wrede en onmenslike lewe in ‘n Russiese konsentrasiekamp blootgestel wat nie almal sou oorleef nie.

Op 10 Februarie 1940 is hulle as oorlogsgevangenes in ‘n Siberiese werkkolonie opgeneem.

Sommiges moes in die plantasies bome saag, terwyl ander in die soutpanne moes werk. “Die kinders was redelik vry maar ons moes skole bywoon waar Russiese lesse verpligtend was. In die middae na skool moes ons gaan help om die bas van die bome te stroop. Soms was ons hande stukkend en het baie gebloei,” onthou sy.

Vir bykans 18 maande is hulle in die kamp aangehou. Intussen is Marie se pa aan longontsteking en wanvoeding dood.

Die Rooikruis het uiteindelik daarin geslaag om hulle uit die kamp te kry en hulle is per trein na Oesbekistan geneem.

“Ons was by tye só honger dat ons selfs honde -en perde vleis tydens die rit geëet het,” het sy vertel.
Twee maande ná hulle aankoms in die nedersetting in Oesbekistan, is Marie se moeder weens uitputting en verhongering dood. Marie moes alleen aangaan.

Ses maande later het sy saam met ‘n groep Poolse vlugtelinge na Oos-Afrika vertrek. Hier is hulle weer in groepe opgedeel en na verskillende wêrelddele gestuur. Sy is na ‘n Poolse kamp in Uganda geneem. Daar het sy in ‘n sendinghospitaal begin verpleeg.

In 1947 is sy as kinderoppaser by ‘n Britse skeepskaptein en sy “Lady” in Kenia aangestel en het ‘n lewe van ongekende vryheid en oorvloed geniet.

Kort voor lank is sy as persoonlike lyfbediende by een van haar “Lady” se vriendinne aangestel.
Sy het as bediende in die huis gewerk en is soos ‘n slaaf behandel.

Toe alles vir haar te veel geword het, het sy ‘n blindedermaanval geveins. Dié plan het egter onvoorsiene gevolge gehad toe haar gesonde blindederm in ‘n hospitaal in Nairobi verwyder is.

“Dit het egter goed geeïnding, want tydens my herstelproses het ek my toekomstige man, Lukas van der Merwe, ontmoet toe hy ‘n pasient in dieselfde saal besoek het. Hy was aan die Britse Spoorweë in Kenia verbonde.

Ons is skaars ‘n week later getroud,” het Marie met ‘n glimlag vertel.

Tydens hul verblyf in Nairobi is drie kinders uit die huwelik gebore.

In 1961 het die gesin na Suid-Afrika geïmmigreer waarna sy 30 jaar lank in die Ermelo Provinsiale Hospitaal verpleeg het.

Tannie Van woon sedert 1964 in dieselfde huis. Intussen is een van haar dogters, Hester, in ‘n motorongeluk dood en haar man het haar in 1995 ontval.

“Ja, ‘n mens kan sê ek het ‘n harde lewe gehad as jongmens, maar ek het nooit my vertroue in die Here verloor nie. Ek het soveel om voor dankbaar te wees,” het sy met onwrikbare oortuiging gesê.

Op die rype ouderdom van 90 is die merkwaardige vrou vir baie mense ‘n voorbeeld van deursettingsvermoë en dankbaarheid.

Related Articles

Back to top button