Local newsNews

Koerantlegende word 90

Hy is in Ermelo gebore en getoë en het in 1950 by die Hoëvelder begin werk ....

Oom Corrie Kleinhaus, ‘n legende in Ermelo se koerantgeskiedenis, vier volgende week sy 90ste verjaarsdag.

Hy is in Ermelo gebore en getoë en het in 1950 by die Hoëvelder begin werk tot sy aftrede 45 jaar later, waarna hy tot op hede as vryskutjoernalis vir die koerant skryf.

Oom Corrie was ook 41 jaar lank die SAUK se verteenwoordiger vir streeknuus op Ermelo.

Hy onthou nog sy beginjare met slegs twee redaksielede, hy en me. Bessie Schwartz.

Oom Corrie het toe die pos van redakteur, subredakteur, verslaggewer, fotograaf, proefleser en vertaler beklee en vertel laggend dat me. Schwartz net verantwoordelik was vir die weeklikse twee-kolom Engelse nuus.

Natuurlik is daar baie stories wat deur die jare uit sy pen gevloei het, wat hom altyd sal bybly.

Nuusgebeure soos die brand wat in 1979 Hoërskool Ermelo se saal in puin gelê en verskeie klaskamers beskadig het, die petroldepot wat gesaboteer is, die tragedie van die Niemand-gesin wat in die laat 50’s gesterf het nadat hulle giftige sampioene geëet het en die Oelofse-dogter wie se lyk in ‘n ventilasieskag by die Burgersentrum gevind is, onthou hy asof dit gister gebeur het.

Natuurlik was hy ook daar om Ermelo se geskiedenis in die koerant weer te gee en het die Camden-kragstasie se opening, die Burgersentrum en die Brummerdam se eerste sooispitplegtigheid en die eerste verskuiwing van die Ruiterstandbeeld van ‘n kerkterrein na die Burgersentrum, eerstehands beleef.

Elke foto in sy album vertel ‘n storie en deur die jare het hy besoeke van ministers, eerste ministers, staatspresidente, sangers, akteurs en sportsterre op film verewig.

Van sy beginjare af het hy ook skolenuus gedek wat daartoe gelei het dat hy die volledige rugbygeskiedenis van die EHS saam met prof. Heinrich Schulze in twee uitgawes geboekstaaf en gepubliseer het.

In 2014 is oom Corrie deur Hoërskool Ermelo vereer toe hy aangewys is as die Errie van die eeu.
Sy verbintenis met die EHS strek oor 70 jaar, eers as leerder van 1941 tot 1944, en van 1950 tot nou in sy hoedanigheid as koerantman.

Hy vertel dat dit aan die Hoëvelder te danke is dat dié eer hom te beurt geval het, want deur sy berigte in die koerant kon hy al die blootstelling aan die skool gee.

Hy beskryf dié toekenning as die hoogtepunt van sy loopbaan.

Oom Corrie Koerant (dié bynaam is ‘n storie vir ‘n ander dag), jou kollegas by die Hoëvelder wens jou ‘n gesëende verjaarsdag toe en sien uit na nog baie Maandagoggende se kuiers met handgeskrewe berigte in Oom se hand.

Related Articles

Back to top button