“Geen borgtog vir verdagte,” eis gemeenskap

Die verdagte wat tydens sy inhegtenisname deur die polisie gewond is, is glo steeds onder polisiebewaking in die provinsiale hospitaal op Ermelo en het nie self in die hof verskyn nie.

’n Groep gemeenskapslede het vanoggend vreedsaam buite die landdroshof op Ermelo bymekaargekom om te vra dat die verdagte van die moord op me. Issie Dippenaar nie op borgtog vrygelaat word nie.

’n Versoekskrif is aan ’n verteenwoordiger van die hof oorhandig.

“Ons is nie hier om wraak te neem of om te oordeel nie. Die oordeel kom ons nie toe nie. Ons is hier om te versoek dat geregtigheid sal geskied en ons wil keer dat sulke wrede wandade nie met iemand anders gebeur nie,” het me. Dippenaar se swaer, mnr. Louwrens Jacobs, gesê.

Die verdagte wat by inhegtenisname deur polisie gewond is, is glo steeds onder polisiebewaking in die provinsiale hospitaal op Ermelo en het nie self in die hof verskyn nie. Die saak is uitgestel tot Woensdag, 30 November.

Me. Dippenaar se liggaam is Maandagaand in die kattebak van haar motor gevind. Sy is vermoedelik verwurg.

Die verdagte, ’n voormalige tuinwerker wat deur me. Dippenaar afgedank is, is Dinsdagmiddag in Thusiville in hegtenis geneem. Van die slagoffer se besittings is in sy besit gevind.

 

Exit mobile version